top of page
  • Uitmelkbos

Dienswillige dienaars




As die gruwels van vrot diens die dag opgeteken sou word in ‘n soort Guinness-boek van kampioen-gruwele sal hierdie chroniese slagoffer ook ‘n straaltjie of twee wil aanbied.


My kwota van minagting van verbruikersregte het ek darem ook al deeglik verduur, en stelle wat met “diensverskaffers” afgetrap is, vul ‘n dik bundel. Dalk is die ergste wat my al getref het, egter nie naastenby so erg soos wat ander arme drommels al getref het nie. Om daardie rede weerhou ek my van die versoeking om ‘n kroniek van HvD se guntelingstories oor afskeepdiens (of geen diens) hier neer te pen.


Gun my darem ‘n klaaglied oor die komplot wat blykbaar teen die uwe in werking is om 90% van sy oproepe, sel en landlyn, sy e-posse en ander beleefde dog dringende kommunikasies botweg te ignoreer – soos n 60-sone op ‘n snelweg deur die Karoo. My selfbeeld is desgevolglik al so in flarde dat ek skoon die bibberasie kry as ek die “enter”-knoppie druk om nog ‘n e-boodskappie iewers in ‘n donker put af te stort of ‘n nommer skakel net om deur ‘n geblikte stem verveeld in my dinges ingestuur te word.


Mag ek darem byvoeg dat my bewondering vir die kreatiwiteit en ondernemingsgees van ‘n loodgieter wat so stil-stil begin het om ‘n museum van gebarste warmwaterstoestelle tussen die dakbalke van ‘n Van D-eiendom te vestig, amper die oorhand kry by my wrewel oor die gesukkel om die goed verwyder te kry?


Miskien moet ek, ten besluite, soos die dominee graag sê, darem net ook so ‘n klein ietsie kwytraak oor winkel-assistente wat weens siendeblindheid, hardhorendheid of die een of ander nie-ooglopende gestremdheid daarin slaag om die uwe altyd mis te kyk of nie te hoor nie as die verwarring my daar tussen hul winkelrakke pak en ek ‘n behoefte aan ‘n bietjie aandag probeer tuisbring by iemand wat net voortgaan om op die selfoon te vry of ‘n stuk kougom droog te bearbei met ‘n rats tong.


Nee, liewe vriende, julle lees my verkeerd. Vandag stort ek heuning uit, nie bitterals nie. Vandag bring ek blomme, nie distels nie. Vandag hou ek ‘n pouveer uit om in ‘n hoed te druk, nie n tak met haak-en-steek-dorings nie.


Telkom, julle is eenvoudig te goed om waar te wees in ‘n kultuur waarin die term “goeie diens” nog net in verslete ou woordeboeke voorkom.


Ons telefoon druis al lank as jy probeer praat. Elke af en toe is dit: “hoesê?” of “please repeat” of lag ek en Tokkie as ons moet ernstig klink en andersom. Arme T. begin al subtiel navraag doen oor die pryse van billike (effens gebruikte) gehoortoestelle.

Eergister seg ek: tot hiertoe en nie verder nie. Ek bel Telkom en rapporteer my probleem. Kort daarna pieng-pieng-pieng my selfoon. Die klagte is ge-“log”. Geen twee uur later nie lui die voordeurklokkie. ‘n Netjiese tegnikus meld hom aan om die fout te soek. Skaars ‘n halfuur later het ons ‘n diagnose.

Hy deel mee ‘n kabel sal waarskynlik opgegrawe moet word. Hy “log” dadelik so ‘n aanbeveling. Kragtie, enkele ure later is hier nog ‘n SMS: hulp is op pad.

Gisteroggend is hier ‘n span van drie by die voordeur. Nog ‘n uur of twee later en daardie lyn is so klokhelder dat jy na ’n sopraan-aria daaroor kan luister.

Ek is as ‘t ware nog besig om blad te skud en dank te betuig, toe daag die volgende SMS op. “Probleem opgelos – hoop jy’s tevrede.”

Telkom se mense, ek hoop kulle kry hierdie loflied te lese. Julle is tops hoor, absoluut tops!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page