top of page
  • Uitmelkbos

Die WTF-resensie

Vermoedelik het die internet se sosiale netwerke baie te doen met die toenemende gebruik van ‘n afkorting wat verbystering, verbasing, afkeer, oorblufdheid, minagting en sommer baie ander reaksies saamvat.

WTF?!?

Kort vir: What the fuck, leestekens opsioneel.

Marlies Taljaard van NWU se reaksie op Wat die water onthou, die jongste digbundel van Louis Esterhuizen (in Rapport), is ‘n WTF?!?!-resensie.

Sewe paragrawe lank. Baie bondig. Tematiek uiteengesit, vasgeknoop. Dan: ”Ek hoop hierdie bespreking kan iéts van die kompleksiteit en meerduidigheid van die besondere bundel toon. Ek beveel dit ten sterkste aan.”

WTF?!?!

Watter bespreking? Watter kompleksiteit? Watter meerduidigheid? Het sy “besonderse” bedoel toe sy “besondere” geskryf het? Hoekom beveel sy dit aan? Omdat sy van die tematiek en die toepassing daarvan hou? (Welke toepassing nooit deur haar evalueer word nie?)

Lyk vir my meer na ‘n leesverslag as ‘n resensie.

***

Ek glo nie Neil Cochrane (van UNISA) kan ooit ‘n WTF-resensie skryf nie, al gebeur wat. Sy akademiese onderlegdheid dwing hom om nie die maklike weg te volg en ‘n bundel se tematiek te ekstrapoleer en te reduseer tot enkele sinne nie. Hy delf dieper, hy voorsien voorbeelde, illustreer opmerkings met aanhalings uit die verse self.

Mens hoef net sy resensie van Martjie Bosman se Toevallige tekens (Die Burger) te lees om sy deeglikheid raak te sien, en hy hoef uiteindelik nie te verklaar dat hy die bundel aanbeveel nie – die aanbeveling is implisiet in die resensie self.

Ek het in die verlede al verwys na die dorheid van sy akademiese benadering en dat dit nie binne ‘n koerantkonteks die aandag sal hou van lesers wat na vinniger leesplesier soek nie. Maar ek verkies dit bo die soort resensie wat Marlies Taljaard geskryf het om die eenvoudige rede dat dit werklik informatief is – en my nuuskierigheid genoegsaam geprikkel het om end-uit te lees.

***

Die ou skool. Sommer in die eerste sin van Ockie Geyser se rensenie van Pik Botha en sy tyd van Theresa Papenfus (Volksblad) kom mens agter dat jy dit hier met ‘n evalueerder te make het wat sy opleiding en verwysingsveld in ‘n vervloë era gekry het: “Die publikasie van Theresa Papenfus ter hand …”

Wat dan volg, bevestig dié indruk – ‘n teoreties uitvoerig en netjies verwoorde uiteensetting oor die biografie as genre, die eise wat aan die biograaf gestel word, die maatstawwe waaraan ‘n goeie biografie uiteindelik gemeet word, en dan ten slotte ‘n besluit oor hierdie Pik Botha-biografie.

Ockie Geyser is ‘n emeritus-professor van die departement Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, word by die resensie vermeld. Ek het nooit die voorreg gehad om by hom klas te loop of hom te ken nie, maar ek neem aan mens sou met ‘n mate van sekerheid kan aanvaar dat hy op sy dag nie ‘n vreemdeling was in die kringe waar Pik Botha ‘n gesagsfiguur was nie.

En sonder om my nou aan ‘n erge ad hominem-argument te vergryp, sou mens kon aanneem dat hy graag ‘n loftuitende resensie sou wou skryf oor hierdie biografie. Die strategie wat hy gevolg het, verklap egter ‘n groot teleurgesteldheid. Hy doen moeite om te beskryf hoe die konteks lyk waarbinne só ‘n publikasie staan. Papenfus moet dit moontlik as ‘n groot kompliment beskou dat hy haar werk meet aan die standaarde wat deur sir Arthur Bryant gestel is.

Die jammerte van Geyser se aanpak is dat die koerantleser self nie genoeg kritiese opmerkings oor die inhoud van die Botha-biografie kry nie. Maar ek het Geyser se betoog met toenemende betrokkenheid gelees, en was uiteindelik, waar hy verklaar dat hy Pik Botha en sy tyd nie as ‘n biografie van formaat beskou nie, goed onder die indruk van hoe jammer hy voel dat hy dié werk te lig bevind.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

コメント


bottom of page