Versigtig lees wanneer jy met ‘n biografie te make het wat deur sy onderwerp goedgekeur is. Jan-Jan Joubert gee in sy bespreking van Pippa Green se “Trevor Manuel: ‘n Lewensverhaal” (in Beeld) ‘n aanduiding dat hy as leser bewus was daarvan dat Green se perspektief effe oor-positief jeens die onderwerp is. Sy sterkste punt van kritiek op die boek hang uiteindelik dan ook hiermee saam – dat Green nie tersaaklike verduidelikings gevra het op sekere punte nie, terwyl sy genoegsame toegang tot Manuel gehad het om daardie vrae te kon gevra het. Ek sê weer: Ek hou van Jan-Jan Joubert se manier van resensies skryf. Gesout genoeg om te weet Trevor Manuel is ‘n heilige bul, skerp genoeg om te weet dat dié boek uiteindelik deur die leser “vertaal” moet word omdat Green alleen vir jou kan wys hoe Manuel homself sien. En ons weet dat hy sensuur uit ‘n ander hoek benader as Allan Boesak. J.C. Kannemeyer kom in sy bespreking van Patrick French se in 2008 gepubliseerde biografie van V.S. Naipaul, “The World is Waiting: The Authorised Biography of V.S. Naipaul” (in Die Burger), voor iets soortgelyks te staan. Soortgelyk maar anders: Naipaul wou sy eie skadukant volledig ontmasker sien. Jammer om dit te moet sê, maar dit lyk nie of Kannemeyer heeltemal opgewasse vir hierdie spesifieke resenseertaak is nie. Hy spring sommer weg met ‘n stelling wat ek hom graag sal wil sien substansieer, naamlik dat Naipaul ‘n skrywer is wat in Suid-Afrika nog te min bekendheid geniet. Waar kom u daaraan, prof. dr. Kannemeyer? ‘n Resensent behoort altyd daarmee rekening te hou dat daar dalk onder sy lesers mense sal wees wat meer op hoogte is met die onderwerp onder bespreking as hyself. Ek sal hom die binnevet van die boud gee en aanneem dat hy voor French se boek ook die Naipaul-studies van Kelvin Jarvis, Arnold Girdharry, Akhtar Jamal Khan en veral Paul Theroux se twee boeke oor Naipaul gelees het. Uit Theroux se twee non-fiksie boeke sou hy al ‘n goeie beeld van Naipaul se skadusy gekry het. Tog laat die huiwering waarmee hy uiteindelik uitkom by Naipaul se aanstootlikheid (“Tog ontkom mens …” en wat daarop volg tot aan die einde van die resensie) mens besef dat Kannemeyer nie die voorreg gehad het om die een boek te lees wat absoluut noodsaaklik is om te gelees het wanneer jy oor Naipaul wil skryf, of ‘n boek soos French s’n wil resenseer nie. Dié boek is “Stet”, die herinneringe van Diana Athill, Naipaul se redakteur by André Deutsch. As hy het, sou hy sy resensie van French se werk heeltemal anders aangepak het, ek is seker. Soos sy resensie nou daar staan, is dit half interessant, ‘n voëlvlug oor Naipaul se lewe, niks meer nie. Ek sal bitter graag wil hoor wat hy van French se boek sê nadat hy “Stet” onder hande gehad het. Mens kan nie werklik begryp hoe goed French se werk is voordat jy sien watter deur Athill vir hom oopgemaak het nie. Sy is in baie opsigte French se kontrolepunt. En bygesê: Van Kannemeyer verwag mens dat hy die inherente probleme van ‘n biografie soos hierdie sou kon illustreer met soortgelyke probleme wat hy moontlik met Leipoldt, Rabie en Leroux ondervind het. Vir wat dit werd is: French se biografie is ‘n monumentale werk. Enersyds getuig dit van die vreemde, narsissistiese drang wat Naipaul had dat die volle waarheid oor hom geskryf moes word (onthou, hy was aanstigter van hierdie biografie), en andersyds bevestig dit alles wat Athill vertel het, en bou daarop voort. Teenoor die grootsheid van Naipaul se skryfwerk plaas French die walglike persoon wat die skrywer daarvan was. ‘n Man wat sy vrou afgetakel het tot die vlak van slavin en uiteindelik erken het hy het haar na haar dood gedryf. Wat nooit die moeite gedoen het om haar dagboeke te lees nie, maar dit tot beskikking van sy biograaf gestel het. ‘n Man wat sy minnares twee dae lank in ‘n hotel pimpel en pers geslaan het sodat sy nie in die openbaar kon verkyn nie. ‘n Man wat op só ‘n wyse met sy skryftalent gesmous het dat die mense naaste aan hom (vrou, minnares, uitgewer) hulself moes verloën om hom op koers te hou. Ná French se skitterende boek, en Athill se herinneringe, kan ‘n mens nooit weer ‘n Naipaul-werk lees nie. ‘n Mens wil saam met Athill uitroep: “It was as though the sun came out. I didn’t have to like Vidia any more.”
Uitmelkbos
Yorumlar