Kersfees is net om die draai en op die Boekeblaaie van die Afrikaanse koerante is dit op uiteenlopende maniere sigbaar.
Vreemdste daarvan is sekerlik Beeld se poging om die Kersgees op te pomp met besprekings van boeke oor die vredesonderhandelinge, die geskiedenis van lugvaart en les bes oor die borge van politieke partye. Geskryf deur drie redaksielede van Beeld.
Die een Afrikaanse boek onder die drie (Vereeniging – Die onvoltooide vrede deur Leon Wessels) het ook die een bespreking opgelewer wat meer na ‘n promosie as ‘n resensie klink. Sarel van der Walt haal Wessels graag aan. Op dié manier lewer hy lekker lewendige leesstof, maar hy raak nie betrokke by ‘n kritiese evaluering van dit wat Wessels skryf ie.
Ek is seker At van Wyk sou die een vraag gevra het wat ‘n boek soos hierdie smeek gevra moet word: “Dink jy dat jy en Roelf Meyer die regte ysters vir die geleentheid was?”
Die onderskeid tussen ‘n resensie en ‘n promosie is een wat al hoe meer gemaak moet word. Christo Viljoen se pragtige skrywe in Die Burger oor die Elektroniese S.A.G. (SA Geslagsregisters, vol. 1-17) is ‘n suiwer promosie en sou nie sleg gelyk het in BY nie.
Ook Pieter Strauss se artikel oor Richmond, Karoo – Die goeie, die slegte en die snaakse (Paul Viljoen se boek oor die dorpie in die Karoo) is ‘n promosie eerder as ‘n resensie. Strauss probeer nog die indruk wek dat hy besig is om te resenseer deur in een paragraaf (uit dertien) te kla oor die skeiding van foto’s en onderskrifte, spelfoute en iets wat hy identifiseer as drukkersduiwel (glo mense nog daarin – of is hulle skaam om te praat oor slordige redigering?)
Wat is ‘n promosie? Jacques Barzun gee ‘n goeie verduideliking van die verskynsel in sy From Dawn to Decadence: “Criticism had given up its main duty of reasoned review and was busy praising and promoting rather than putting order in the welter.”
Die kritiese ingesteldheid is afwesig in ‘n promosie. Dis moontlik, soos in André Wessels se bespreking van Albert Blake se Boereverraaier – Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (op dieselfde dag in Die Burger), om ook oorweldigend positief in jou taksering te wees, maar ‘n resensie te lewer eerder as ‘n promosie.
Wessels verduidelik sommer met sy eerste sin hoekom mens hier met ‘n uitsonderlike geval te make het: “Af en toe verskyn ‘n boek wat ‘n mens werklik tot stilstand ruk, wat jou dwing om nuut en anders oor die verlede te dink.”
Hy plaas dit in konteks met ander publikasies op dieselfde gebied deur te sê dat dit in samehang met Albert Grundelingh se Die “hensoppers” en “joiners” – Die rasionaal en verskynsel van verraad gelees moet word.
Wat sy skrywe dan resensie maak en nie promosie nie, is dit feit dat hy analiserend en argumenterend opbou na ‘n opsommende oordeel: Dat hierdie boek Suid-Afrikaners vir die eerste keer dwing om rekenskap te gee van hul gedeelde verlede, wat die geskiedenis van verraad en die gevolge daarvan insluit.
Die verskil tussen promosie en resensie word ook mooi geïllustreer deur ‘n vergelyking van Elzette Steenkamp se aanbeveling van Eben Venter se Brouhaha in Rapport en Cilliers van den Berg se analise van Alexander Strachan se Dwaalpoort in Volksblad.
Sodra mens bewus is van die onderskeid tussen promosie en resensie, is daar dadelik ‘n paar kwellings. Die eerste is of dit regverdig is teenoor sowel die leser as outeur om promosies op Boekeblaaie te plaas naas resensies, sodat nòg leser nòg outeur daarop bedag is dat ‘n kritiese ingesteldheid nie hier aan die bod is nie. Dit kan nogal ‘n ontnugtering vir ‘n outeur wees om ná ‘n paar promosies skielik ‘n waaragtige resensie op die lyf te loop. Almal sê ek skryf so goed, so waarom is hierdie resensent skielik so dwars …
Ten tweede sal dit ‘n skrander koerantredakteur nie te lank neem om sy Boekeredakteur te vra of mens nie iemand moet laat betaal vir die plasing van sulke promosies nie. ‘n Boekeblad met só ‘n ingesteldheid sal sekerlik meer finansiële sin maak, maar dit sal vir my die doodskoot wees van die kritiese gees wat ‘n koerant veronderstel is om op sy Boekeblad ten toon te stel.
Comments