top of page
  • Uitmelkbos

DIE VERKIESING: ‘N BESTEKOPNAME

Wanneer bestek opgeneem word oor die verloop van die munisipale verkiesing van 1 November 2021 sal dankbaarheid en verligting heers oor die relatief gladde verloop by die meeste stemlokale ondanks allerlei uitdagings, van storms tot ktagonderbrekings tot protesoptrede. ‘n Reuse-span mense het hard gewerk, kiesers goed behandel en onkreukbaar hul pligte vervul.

Dinge het plek-plek gehaper – sommer kwaai gehaper. Daarvan moet kennis geneem en haakplekke moet aangespreek word. Die mikpunt moet altyd wees om standaarde so te handhaaf dat die kiesers vertroue behou dat ‘n verkiesing inderdaad “vry en regverdig” was, soos dit voorspelbaar bevind sal word.

Hier dan ‘n 10-stuks vrot kolle waaroor in koerante, op TV en op sosiale media berig is:

1. Stemlokale was van tyd tot tyd disfunksioneel onder meer weens onderbemanning en elektroniese stelsels wat nie gewerk het nie. Die gevolg? Lang toue wat opgedam het ondanks ‘n lae stempersentasie. Hoeveel kiesers het nie onverrigter sake omgedraai nie? Ons sal nooit weet nie.

2. Stembriewe (en merkpenne/watte) wat vroeg-vroeg onverklaarbaar opgeraak het, opvallend by hoofsaaklik opposisievestings. Stembriewe is ook verkeerd afgelewer.

3. Verkeerde kieserslyste terwyl die regtes onder ‘n hoop papiere weggesteek lệ.

4. Geregistreerde kiesers wat tot hul verbasing moes hoor hul name is nie op die kieserslys nie.

5. Geregistreede kiesers wat by die “regte” stemokale, volgens hulle, weggewys en rond en bont gestuur is om elders hul kruisies te gaan trek.

6. Ontbrekende stempels. Gaan daardie stemme tel of gediskwalifiseer word?

7. Skelmstreke. Een verkiesingsbeampte (goeie genugtig) is in hegtenis geneem omdat hy gemerkte stembriewe in ‘n stembus gestop het. ‘n Ander is aangekla nadat hy ‘n verseëlde stembus oopgemaak het. Met watter doel?

8. Magsmisbruik. ‘n Verslaggewer is deur die polisie gegryp omdat hy die voorsittende beampte se “aandag afgelei het”. Helen Zille is hardhandig verwyder terwyl sy kiesers probeer motiveer om nie tou op te gooi nie.

9. Teenstrydighede en verwarring oor die hantering van oues van dae en immobieles.

10. Vreemdhede soos dat 90% plus in ‘n wyk vir spesiale stemme geregistreer is terwyl van die betrokkenes van geen sout of water weet nie.

Mense wat minder krities ingestel is, sal waarskynlik aanvoer dat hierdie dinge yl verspreid voorgekom het en nie ‘n patroon daarstel nie. Goed en wel. Maar ons moet tog maar waak dat ons nie agtelosigheid, tekortkominge en misbruike skouerophalend as die norm aanvaar nie. Dan reduseer ons Suid-Afrika in ons gedagtes tot maar net nog ‘n Afrikalandjie.

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page