Suid-Afrika bly geseënd met mense wat vooruit dink en aan ons kinders se toekoms glo. In Pretoria is die nuwe Nasionale Biblioteek geopen teen ’n koste van R374 miljoen en Kaapstad se Sentrale Biblioteek is opgegradeer teen ’n koste van R50 miljoen.
Boeke lewe dus.
Die bib in Pretoria het tans ongeveer 2 miljoen boeke en dit het plek vir nog 3.5 miljoen. Die gebou is só ontwerp dat dit ook volle konferensie- en navorsingsgeleenthede bied.
Die bib in die Kaap het 40 rekenaars met gratis internettoegang, ’n uitgebreide kunsgallery en ’n musiekafdeling.
Maar is biblioteke die enigste goed om na te kyk as ons die toekoms van boeke wil bepaal?
Ek gesels baie met my vriende en kollegas oor die toekoms van die boek. Ek is ’n skrywer in die nag en ’n uitgewer in die dag. Ek maak dus ’n lewe uit boeke.
So? Quo vadis?
Verlede jaar was die vier topverkoperboeke in Japan vervolgverhale wat per selfoon afgelewer is en op die klein skermpie gelees is.
Maskew Miller Longman is tans ook hard aan die werk om Suid-Afrika se groeiende selfoonbevolking toegang te gee tot allerlei ongelooflike nuwe opvoedkundige hulpmiddele. As jongmense selfone dra, wat hulle lees, dan moet ons hulle sover kry om te lees. Hou hulle dop. Daar kom groot dinge!
Talle boeke is al beskikbaar in e-boekformaat en selfone, skootrekenaars en die internet kan ingespan word om hierdie tekste af te laai en te lees.
Verder is daar die Kindle, Amazon.com se nuutste e-boekplatform.
Ek is van mening dat die e-boek in my leeftyd al meer sal verkoop as die gedrukte boek. Baie van my kollegas kry die stuipe as ek dit sê, maar hou die toekoms dop!
Intussen moet ek egter ruiterlik erken dat ek ’n liefhebber is van die gedrukte boek. My huisbiblioteek is reeds baie groot, en dit groei elke maand.
En, kom ons keer terug na die splinternuwe biblioteke wat ek aan die begin genoem het: daardie twee geboue spreek boekdele oor ons land se mense; letterlik en figuurlik!
Viva amaBoekeBoeke!
댓글