As jy lief is vir kuns, boeke, musiek en die sterre, of, as jy belangstel in die sterre maar nog nooit mooi al die konstellasies kon onthou nie, is hier nou ’n geleentheid om die sterre op ’n heel nuwe manier te leer ken.
Die Vriende van die Kaapstadse Observatorium hou Saterdag 24 April ’n ope aand. Dit begin 20h00 en skop af met ’n praatjie deur Suki Lock getiteld: “The Art of Stars”.
Suki gaan ’n multimediavertoning hou waarin sy gaan praat oor boeke, films, musiek en kuns wat deur die sterre geïnspireer is.
Suki is meer as net ’n mooi gesiggie – sy weet ook iets van die sterre af. Verder is sy self ’n goeie grafiese kunstenaar.
As ’n bonus gaan die sterrekykers hul teleskope saambring en enige een wat belangstel, sal ná die praatjie die sterre kan bekyk deur die talle teleskope wat deur die entoesiastiese groep vrywilligers beman en bevrou sal word. (Ek het onlangs een van die entoesiaste se kennis beleef en was baie opgewonde oor dít wat ek in ’n kort tydjie geleer het.)
Die aand is gratis en sal teen 22h00 tot ’n einde loop.
Vir meer inligting, loer gerus na hierdie webruimte: www.tinyurl.com/artofstars
(En, na aanleiding van gister se inskrywing, as julle die sterre wil sien wat opgetree by Not The London Book Fair, kliek hier.)
Comments