top of page
  • Izak de Vries

Die skeppende proses


Ja, ek het darem nie net “imaginary friends” nie. Herman van den Berg was saam met my op skool, in dieselfde klas. Slim kêrel gewees.

Ons loop mekaar nog so elke dan en wan raak en ek is ’n groot aanhanger van sy musiek. Kom ons wees nou eerlik, daar is ’n paar baie groot name in die Afrikaanse musiekwêreld: David Kramer, Laurika Rauch, Laurinda Hofmeyer, Coenie de Villiers, Valiant Swart, Amanda Strydom, Koos Kombuis, Karen Zoid, Elsabé Zietsman, Anton Goosen ... Nota Bene die stippels, want ek kan darem nie heeltemal ’n punt sit agter die sin nie. Ons onthou ook Koos du Plessis en Johannes Kerkorrel. Moenie Koos se dogter, Karla en haar man, Roof Bezuidenhoudt, vergeet nie.

Ek is seker dat ek ’n paar minute na hierdie blog verskyn het, nog mense kan byvoeg, soos Jak de Priester, wie nog? Ek wil graag van ander ook hoor, want ek is seker ek het ’n paar belangrike mense weggelaat.

My vrou sal my skop as Lize Beekman nie ook verskyn nie. Het Mathys Roets uitgeval?

Okay, ek is dun ys! Waar is Piet Botha, Gian Groen en onse Johrné?

Die punt is egter dat hierdie ouens saam in een jaar waarskynlik minder cd’s verkoop as ’n enkele uitgawe van een of ander “danstreffer”.

Herman van den Berg moet ook hierbo genoem word. Hy is die tipe kêrel wat na die SAMA’s genooi word, maar hy moet om den brode werk. Musiekmaak kan nie betaal in ’n land waar die kunste so min ondersteuning kry nie.

Kyk ook maar na boekverkope. Ek weet ek preek vir die bekeerdes, maar daar is bitter min voltydse skrywers in ons land. Die meeste van ons sit laatnag agter ’n rekenaar en torring in die koue aan ’n nuwe verhaal. Ons verkope maak dit hoogstens moontlik om nou en dan lekker vakansie te hou om die gesin te vergoed vir die lang ure wat ons op ons eie sit en werk.

Dis hoekom ek ’n deel van Herman se nuusbrief met julle wil deel. Hy is op die punt of ’n nuwe cd klaar te maak. Dis wat hy skryf:

In April het die mal musikante in my huis gekonglomereer om die opnames te kom maak. Dit was absolute chaos. Daar was 12 kitare in 2 kamers, die hele sitkamer was vol van dromme en mikrofone, om elke hoek was daar ‘n musikant, daar was matte op teen die mure en die vloer was toegeslang van drade. Maar dit was een van die wonderlikste ervarings van my lewe.

Die benadering om by die huis op te neem is nie nuut nie. Sting en Bruce Springsteen is onder andere van die kunstenaars wat dit onlangs só gedoen het. ’n Groot struikelblok vir goeie opnames is dikwels die feit dat die musikante te veel speel omdat die geheelprentjie nie gehoor word nie, of dat die opnames te klinies word omdat die interaksie tussen musikante nie daar is nie. Ek het gehoop dat dit die musikante die geleentheid sal gee om die musiek beter te leer ken en om ’n gevoel van eenheid te kry, en ek glo dit is presies wat gebeur het.

Dit klink lekker gesellig, nie waar nie? En tog:

Na ’n paar tegniese struikelblokke uit die weg geruim is, het ons in erns begin dit reggekry om die musiek in drie dae op te neem. Dit was egter net ’n basis om vanaf te begin: Daarna het nog individuele opnames van verskeie instrumente gevolg en die “editing” van al die opnames het begin. Viole en koperblasers moet nog opgeneem word in die volgende twee weke, en dan kan die finale stemopnames, “mixing” en “mastering” gebeur. Ek moet erken, ek het die omvang van die hele projek onderskat. Die opnames van die musikante is maar ’n klein deel van die totale omvang. Ek sit nou al twee maande lank (deeltyds tot laat in die nag) in die studio agter die rekenaar.

Dis deels hoekom ek sit en blog. Aan die een kant is dit afleiding vir die alleen ure agter die rekenaar, aan die ander kant voel ek dat ek darem ’n klein bydrae kan maak ter ondersteuning van al die ander wat óók laatnag agter die skerms sit.

Nie almal van ons kan sing nie – julle wil my beslis nie hoor nie. Nie almal sal die Hertzogprys wen nie. Maar daar is heelwat van ons wat laatnag sit en swoeg.

Lekker blog, laatnagvriende.

En sterkte aan almal wat op een of ander manier sit en werk aan ’n projek. (Baie projekte waaraan ek werk is om den brode, of vir een of ander organisasie. “Skeppend” dalk nie, maar wel betekenisvol.)

Ek hoop om een van die dae meer te vertel oor die vrugte van my nuutste laatnagprojek. En, as Herman se cd reg is, sal ek ook laat weet.

Besoek gerus sy webruimte: www.hermanvdb.co.za

Daar is ’n paar gratis MP3’s wat julle daar kan kry.

Herman se bestaande cd’s is op Kalahari.net te kry. Hulle is die moeite werd! Kliek net op die prentjies hierbo, elkeen is geprogrammeer om jou na die Kalahari-ruimte te neem waar dié cd te koop is.

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page