top of page
Uitmelkbos

DIE SIEL VAN DIE IER


Vir iemand wat nog nooit in Ierland was nie, het ek nogal heelparty Ierse liefdes, herinneringe … en selfs soeweniers.

Ierse musiek, Ierse whiskey (Jamesons), Ierse koffie (natuurlik opgedis slegs met Ierse watertjies onder die room, tog nie Skotse watertjies nie) – dis hoog op my lys van Ierse vreugdes.

Hierdie Ierse draai is n.a.v. mededelinge deur my vriend Sarel Venter van Bloemfontein, wat op sy beurt regaeer het op my onlangse blog-verwysing na St. Patrick-dag in Suid-Boston op 17 Maart 1977.

Hy’t laat weet:

“Jou verwysing na jul “Ierse” herinneringe het my laat dink aan ons reis van sowat 12 dae en 3000 km deur Ierland in 2004. Die landjie het my van kindsbeen af gelok – dalk omdat my ma ook Ierse skrywers se boeke gelees het en lief was om Ierse liedjies te sing. Soos When Irish eyes are smiling en Galway Bay. Veral as ons op die lang pad reis. Kosbare herinneringe.

“Ek het twee CD’s met ‘n keur van Ierse liedjies in Ierland gekoop en dit op Irish Car Rentals se Vauxhall Astra se CD-speler gesit.

“Toe ons Galway Bay nader het ons na die bekende Galway Bay geluister. ‘n Gunsteling van my ma. En Rose of Tralee is gespeel by die dorp met hierdie naam. Dan was daar ook onder meer The Wild Rover (‘n heerlike liedjie), Danny Boy en Molly Malone, wie se standbeeld in Dublin staan.

“Die aand in Galway Bay het ons in ‘n Irish pub heerlik gekuier en geëet. En swart bier gedrink.”

Ek e-pos daarop vir Sarel die omslag van my CD Irish Tenors (hierbo), die geskenk van ‘n Iers-Afrikaanse vrou, as daar so iets kan wees. Haar naam was Sybil Hellyer (néé Van der Merwe), wat getroud was met Glen Hellyer van Richwood, Kaapstad. Vyf Ierse tenore, onder wie John

McCormack, Josef Locke en Michael O’Duffy, sing daarop die treffers wat Sarel noem, en ander.

Van die einste liedjies het die aand in 1994 opgeklink toe ek in die prentjiemooi stadjie San Antonio in Texas aangekom het (die tuiste van die bekende Alamo-fort waar die kritieke slag om Texas se onafhanklikheid plaasgevind het). Ek was in die Hotel Palaccio del Rio, ‘n manjifieke plek op die oewer van die San Antoniorivier wat deur die stad kronkel (foto).

Uit die hotel se karaktervolle Irish pub het die een Ierse liedjie na die ander aangesweef gekom terwyl derduisende liggies in die bome flonker en die water om roeibootjies in die water klots. Romanties verby.

Onder my Ierse soeweniers is, buiten die CD en ‘n bottle Jamesons in my drankkabinet, ook die DVD van André Rieu se konsert in Dublin, die geskenk vir my 70ste van ‘n mede-bewonderaar van die “Walsende Hollander”. Die gaskunstenaar is die wonderlike, bebaarde Ierse violis John Sheahan, wat sy baie mooi Marino Waltz uitvoer. John and André sorg vir groot plesier met The Irish Washerwoman.

Sarel stel voor dat ek Pete McCarthy se McCarthy’s Bar / A journey of discovery in Ireland lees. Dis baie snaaks, bevind hy. Ek wil dit doen. (Oral deur Ierland kry jy pubs van die McCarthy-franchise).

Hy stel ook voor dat hy en Liesbeth en ek en Tokkie, as almal fiks en gesond is, as ‘n soort “laast fling” in Ierland van pub tot pub gaan kuier. Hoekom nie? Dit sal net lekker wees om die siel van die Ier op daardie manier beter te leer ken!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page