top of page
  • Uitmelkbos

DIE ROOI KAS


Met ‘n verfkwas kan ‘n mens skoonheid skep – of skoonheid vernietig.

In die eerste kategorie plaas ek sonder huiwering my vrou, Tokkie. Met verf en vernis verrig sy wondere. Sy’s so ‘n ekspert dat sy presies die regte kleur kan uittower met ‘n enkele teelepel koffiepoeier in ‘n blik wit verf! Toe sy 60 word (ook al nie gister nie!) het Pierre van Manen vir my ‘n skets van haar gemaak


met die titel “Engel met die verfkwas”. Dis omdat die kinders altyd spot: as hul ma in die hemel kom, sal sy dadelik begin rondkyk wat dalk ‘n vars lagie verf of vernis nodig het.

Pas op, Petrus!

Oor die tweede kategorie wil ek uitgebreider ‘n paar insigte kwytraak. Dit na aanleding van ‘n Huisgenoot-artikel oor die sogenaamde “Idol” Jan Hoogendyk (beter bekend as Elvis Blue) en sy mooi vrou, Chireze, wat plus baba Lila (2) in Berario, Johannesburg, nuut gaan huis opsit het.

Liewe, goeie mense, lyk dit, maar toe roep hulle ‘n binneversierder Janine Borchner in en raak skoon verf-betotteld. Die rooi voordeur in die grys muur klink nog nie te dronk nie. Maar ouma se eetkamerkas wat afgeskuur is en ook nou in rooi skitter, gee hierdie ou gryse die horries.

Voeg daarby die spektakel van die bypassende imbuia-en-geelhouttafel en –stoele wat wit geverf is, en dit begin al hoe meer na ‘n koorsdroom klink.

“Ek weet nie wat arme Ouma gaan sê as sy dit sien nie,” haal Huisgenoot Chireze aan, haar oë gemaak groot. Ouma kry ‘n oorval, meisie – dit kan jy maar weet.

“Oorval” is die woord wat my houtliefhebbende vriend, Jan Scholtz van Bloemfontein, gepynig uitroep toe ek hom die skoknuus van die meubelverminking in Berario oor die telefoon meedeel. Met watter emosie daardie uitroep ge-uiter is, sal almal goed weet wat Jan ken, en ook die pragmeubels wat hy in sy vrye tyd in sy motorhuis in Genl. De Wet in Bloemfontein met sorg en liefde geskep het: uit stinkhout, swarthout, geelhout, dolfhout, peerhout, noem maar op.

Buiten dat Jan hout ken, ken hy Langenhoven. Toe hy 70 word, het sy hele toespraak uit spreuke van Langenhoven bestaan. Langenhoven het al gesê as jy ‘n ou ding wil vernietig, verf jy dit, lig Jan my in. Blykbaar had Langenhoven se geslag skielik die inklinasie om sierlike ou bokwaens oor te “skilder” – vandaar die oubaas se ontsteltenis.

Van toe af kry ek die horribaalste nagmerries. Ek sien helder voor my oë swerms verfspanne met enorme blikke rooi, geel, blou, pers, pienk en oranje ons hele erfenis in sy maai verf – en skrik dan vervaard wawyd wakker.

Reken: van Groote Schuur af tot Groot Constantia, deur die Kaaps-Hollandse sierade van die Stellenbosse Wynroete tot doer bo in Bryntirion, Pretoria, verdwyn die gloeiende, vlammende hout van klassieke eeue-oue meubels eensklaps onder lae Dulux, Plascon en dies meer. Jy raak sommer papnat van die angssweet.

In hoofstuk twee van hierdie verf-nagmerrie loop selfs die liewe Ingeland deur. Koningin Elizabeth dag nog eendag haar troon is vir altyd omring deur duursame, kosbare, onvervangbare meubelment van fluweelgladde donker hout; die volgende dag lyk die paleis se interieur soos Namakwaland in die blomtyd.

Jan sê dis die skuld van TV-rubrieke en tydskrifte wat mense raadgee hoe om hul ou goeters byderwets te maak. Daardie “kenners” ken net een storie: verf dit.

Verf dit .. en vernietig dit, soos Langenhoven al gesê het.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page