Andries Visagie skryf oor Karnaval en Lent, deur T.T. Cloete. (Boeke24) Dit is gepas dat ’n resensent van die statuur van Andries Visagie gevra word om ’n nuwe bundel deur T.T. Cloete te bespreek. Dit is ook goed dat Boeke24 besluit het om behoorlik ruimte aan dié bundel af te staan. Visagie se resensie sou ’n dekade of wat gelede aangebied gewees het as ’n voorlopige verkenning – ’n eerste kenismaking, ’n oopvou van die tematiek vir die liefhebber van die digkuns, ’n aanduiding van die digterlike vernuf, en ’n blik op Cloete se hoogvlug. Dít doen Visagie én lewer meer as ’n eerste verkenning. Die resensie sou vir my in sy totaal bevredig het as Visagie ruimte gehad het om die twee negatiewe opmerkings wat hy maak, behoorlik uit te brei. Dalk kleiner foto-illustrasies gebruik – ons weet mos hoe lyk T.T. Cloete. In die geheel stem die verskyning van n resensie soos hierdie ’n mens baie dankbaar.
Riette Rust skryf oor Die sideboard, deur Simon Bruinders. (Boeke24) Nie naastenby bevredigend nie. Rust gee ’n idee van die tematiek en lig haar lesers in oor haar persoonlike reaksie op die boek. Kritiekloos. Haar relaas is verwarrend. Die roman handel oor Suid-Kaapse bruin mense wat in die Tweede Wêreldoorlog vir Suid-Afrika gaan veg het, sê sy in die begin. Maar ’n ent later word daar in Sharpeville gemarsjeer, en is daar protes teen die Nasionale Party se bewind en die paswette. Moet mens dus aanneem dat Die sideboard handel oor bruin mense se wedervaringe tussen 1939 en die jare sestig? ’n Resensie soos hierdie behoort kritiese aandag te gee aan sowel die tematiek as die skryfkuns, en Rust steek by eersgenoemde vas. Gelukkig verklap haar hantering van die tematiek tog iets van die skryfkuns. Ek het ’n vermoede hierdie roman werk met duidelike kontraste tussen die wit en bruin karakters; dít wat Rust beskryf, klink egter vir my baie ongenuanseerd. Die een keer wat sy dit waag om illustratief aan te haal (om Bruinders se vernuf as liefdesverhaalskrywer te toon), is die paragraaf deurspek met clichés.
Heinz Modler skryf oor Kwakke, kwinte & kwale, deur George Claassen. (Boeke24) Ek geniet dit werklik baie om resensies soos hierdie te lees. Heinz Modler is kundig genoeg om met ewe veel gesag as George Claassen te skryf oor die mens se nuk om teen beskikbare wetenskaplike getuienis in hul hoop te vestig op vertrouenswendelaars. Sy resensie is dan ook ’n reaksie op Claassen se boek wat tegelyk die inhoud omskryf en beoordeel, maar ook argumenterend die boek se strekking bevestig en, glo ek, op bondige manier verstaanbaar maak vir die leek. Puik!
Comments