top of page
  • Uitmelkbos

DIE PRYS VAN ‘N NAAM

Ons name het ons gister geld gekos: R120 vir my en R120 vir Tokkie. By ons kerk, die NG kerk Melkbossstrand, was dit “naam-Sondag”. Vir elke letter in jou naam moes jy R10 of R20 opdok, mits jy natuurlik wou saamspeel.

Die Van Deventers het gekies om vir die goedkoper opsie, Hennie en Tokkie, te gaan, nie vir vir die duurder Jakob Hendrik en Gesina Susara nie!

Het in die kerk sit en wonder wie in ons gemeente die langste naam het. Gerhardusse, Wilhelminas en so aan wemel waarskynlik onder die ouer geslag. By die nuwe generasie kom waarskynlik weer meer byderwetse dubbelloop-name as kandidate na vore. Ek ken ‘n Cathy-Claire en ‘n Maria-Anne.

Ek glo daar is langer enkelname en langer dubbelname as die paar wat nou by my opkom? Wat sou die langste naam in Afrikaans wees?

Die bring my by die onderwerp van naam-modes. Die tyd vir geleentheidsname soos die 1936-model Ossewania Kakebenia is lankal verby. Ook die mode om dogters blomname te gee, soos Rosa of Petunia, behoort tot die verlede, hoor ek.

Wonder of familiename nie ook maar een voet in die graf en die ander op ‘n piesangskil staan nie. Ek het darem, nog ‘n kleinseun, Jacob Henry, wat so amper-amper na oupa heet. Vir Tokkie is geen Gesina Susara egter in die nageslag nie.

Trouens, ons eie dogter, Marisa, was al ‘n wegbeweeg van Maria Petronella (een ouma) en Maria Magdalena (ander ouma).

Om ou familiename teë te kom, wek nogal ‘n gevoel van nostalgie by ‘n ouer mens. Herinner jou aan iemand wat jy ken het. Vir die nuwe generasie lyk dit soms ouderwets en koddig.

Moderne name weerspieël na my waarneming meer wat ek die drie k’s wil noem: kort, kragtig, kreatief. Mense skep graag name soos Len (weet van ‘n Len Nel) of Ros (Ros Rossouw).

Wens iemand wil laat weet wat die heersende naammode is. Is ‘n Tradisionele MANSNAAM vir meisietjies wat nou gebore word, werklik ‘n inding, soos ek hoor?

Wat is in ‘n naam, word gevra. “A rose by any other name smells just as sweet,” sê die Engelse. Waaraan ek ‘n hekel het, is mense wat agter sulke gesegdes skuil om slordig met name om te gaan.

Ek kom uit uit ‘n koeranteskool vir wie name heilig was. As ‘n vrou haar naam as Anna aangee, het jy haar gevra: Anna met twee n’e of Ana met een n? Deesdae lyk dit of mense maar arrie-warre met jou naam is. Ek is J.H. maar kry hope en hope pos vir H.J. ‘n Vriend met die van Duvenage (sonder die h) word konstant Duvenhage (met ‘n h).

Nog iets wat my aan die goeie ou dae laat verlang.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page