top of page
  • Uitmelkbos

Die plek van analise

Briewe uit Brielshoop, deur Helene Olivier. Resensie: Anna Kemp. (Rapport Boeke) As ’n resensent die noot hoog insit oor ’n boek, verg dit ’n noukeurige onderbou van uitleg en analise. Anna Kemp sluit met “Briewe uit Brielshoop is een van die beste boeke van die jaar, wat reeds ’n indrukwekkende oes opgelewer het. Dit verdien niks minder as vyf (uit vyf) sterre.” Alles wat daardie opmerking voorafgaan, ondersteun dit – gee daaraan volle geloofwaardigheid. Dít is hoe dit gedoen moet word.

Die Kaapse Helpmekaar, deur Anton Ehlers. Resensie: Fransjohan Pretorius (Boeke24) ’n Interessante en belangrike stuk geskiedenis, dié van die Kaapse Helpmekaar. Fransjohan Pretorius se inleidingsparagraaf is só pertinent dat dit die boek se waarde vir die eietydse leser onmiddellik verklaar: #FeesMustFall-mense moet hierin lees hoe dinge gedoen kan word. Daar is niks nuuts onder die son nie; uiteindelik is dit ’n kwessie van styl.

Losprys, deur Martin Steyn. Resensent: Jonathan Amid. (Boeke24) Jonathan Amid ken sy storie oor misdaadromans. Sy geesdrif het die boek dadelik bo-aan my vakansieleeslys geplaas. Baie slim manier om ’n boek se inhoud te takseer sonder om die geheime van die verhaal te verklap.

Kinnes, deur Chase Rhys. Resensent: Valda Jansen. (Rapport Boeke) Jansen maak nou ’n gewoonte daarvan om dinge wat by boeke se bekendstellings gesê is, in haar resensie te vervleg. Dit is kontraproduktief, om die minste te sê – so al asof sy nie die oorweldigend gunstige reaksie wat sy op die boek voor hande gehad het, genoeg vertrou om dit alleen as resensie aan te bied nie. Miskien meer oor die boek sê, en minder aanknopingspunte soek vir die lansering van ’n taalbeweging? Ek stel belang in Valda Jansen se mening oor Kinnes en sy inhoud – omdat sy ’n skrywer is. ’n Gedetaileerde analise van Kinnes deur Jansen sou voldoende gewees het om die boek en skrywer te promoveer; vir my gevoel is hierdie hebried van rapportering, resensie en reklamestuk té veel trompetgeskal en té min analise. Sal ek die boek koop en lees? Ja. Is hierdie resensie een waarna studente van die toekoms kan terugverwys om hulle te help met hul analise daarvan? Nee.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page