top of page
  • Uitmelkbos

DIE PêREL IN JOU OOG

‘n Oog kan sag, teer en liefdevol wees. ‘n Oog kan blits , vuur spoeg en jou deurboor. Sterre skitter in jou oë of onweerswolke pak daarin saam. ‘n Oog kan vele ander dinge wees: hartseer, blink, troebel, betraand. Dit kan ‘n bars kyk of geneig wees om te dwaal.

Jy kan vir iemand van die teenoorgestelde geslag ogies maak en vir ‘n kind grootoog. Jy kan jy jou gespreksgenoot onder vier oë spreek, of, as jy baie kwaad is, ‘n oog vir ‘n oog eis.

Die oog is die venster van die siel, sê ‘n wyse. Dit is soos ‘n diep poel wat deur die maanskyn aangeraak word, dra ‘n digter by. Wat is die oog? Maak jou keuse.

Een ding weet ek: die oog is ‘n sintuig in sy eie liga; veelsydiger as al die ander.

Nou kom die Bybel met taamlik radikale advies. As die oog jou pla, ruk hom uit, verneem ons. Gelukkig is dit figuurlik bedoel. Letterlik, is vir ‘n oog wat pla, gelukkig aangenamer alternatiewe beskikbaar.

Begin maar by die doodgewone bril. Brille is vandag so gevorderd dat mini-kameras al ingebou word. ‘n Mens is half verbaas ‘n bril is nog nie ontwerp wat jou antwoord wanneer jy roep nie.

Danksy lasers en ultra-klank is moderne oogchirurgie kinderspeletjies teenoor wat dit doerie tye was. ‘n Wandeling in die park, het ‘n vriend uit sy eie ervaring gerusgestel toe ek aankondig dat ‘n operasie my voorland is om ‘n karatak te verwyder.

Een Facebookvriend weet selfs te vertelle van ‘n vroulike atleet wat die oggend aan haar oë laat werk het en dieselfde aand by ‘n byeenkoms, rooi oë en al, aan die spiesgooi deelgeneem het.

Die uwe het Woensdag in die Kaapse Ooghospitaal die eerste van sy twee katarakverwyderings ondergaan. Hy kan eerstehands getuig. En ja, werklik, die prosedure hou niks te vrese in nie. Alles loop seepglad. Geen pyn, geen bloed.

Die spiesgooier kon egter darem nie ‘n kararak laat verwyder het nie. Jou oog word 24 uur toegeplak. Jy stap uit die hospitaal met ‘n lys moets en moenies: dan die oogdruppel, dan daardie ene; nie buk, nie motor bestuur, nie oefen, nie die nuwe lens ooreis nie.

As iemand anders jou veters moet knoop, glo ek nie dat spiesgooi op jou spyskaart sou kon wees nie. Seker maar ‘n ander laser-joppie gewees.

Maar oor katarak, die woord. In die oorspronklike Grieks of Latyn beteken dit ‘n waterval, niks anders nie. Die oogprobleem met ‘n troebel lens – in die volksmond bekend as ‘n oogpêrel – word eintlik sonder goeie grond ‘n katarak genoem.

Maar katarak en waterval – in die nuwe tegnologie vir die chirurgiese verwydering van die ou lens en die vervanging met ‘n helder nuwe een kom die twee woorde mooi bymekaar.

In die ou dae, vertel my arts, was die katarak soos ‘n “smartie”-lekker wat uit jou oog gehaal is. Deesdae word dit met ultra-klank in die oog tot ‘n vloeistof gereduseer. Die vloeistof word dan in ‘n stroompie uit die oog gesuig. Siedaar: ‘n Klein waterval inderdaad.

Dalk was die ou mense slimmer as wat ons gedink toe hulle die ding ‘n katarak genoem het.

5 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page