Bloukuifloerie by ons watergat in Sabiepark
In Afrikaans gaan ons taamlik liberaal om met die adellike naam “Loerie”. Ek kan vinnig die volgende “loeries” op my vingers aftik: die bloukuifloerie, die Knysnaloerie, die bosloerie, die vleiloerie en die grys loerie – almal wat ek gereeld sien of al meermale gesien het.
In voëlboeke (soos Sasol s’n) lees ek van vir my onbekende “loeries” soos die Schalow, die Livingstone en die Ross. In ‘n papegaaiboek vir kinders kom ek te wete van omtrent 25 soorte “loeries” (en 30 soorte “loerikette”) wat in die woude van die Oos-Indiese eilande, Australasië en die eilande van die suidelike Stille Oseaan hou.
Eersgenoemde twee, die bloukuif- en die Knysnaloerie, is na aan my hart. Ek kom flussies by hulle.
Die kleurryke bosloerie is ook ‘n besonderse (en boonop uiters seldsame) voël. Maar soos die pragtige Avancia Bohm nie kwalifiseer om Nieu-Seeland by die Mej. Heelal-wedstryd te verteenwoordig nie (sy is dan trots Suid-Afrikaans!) verdien die bosloerie (Engels: narina trogon) nie in bogenoemde geselskap vermelding nie. Die bosloerie het eenvoudig nie loeriebloed nie.
Die eerste keer dat ek een “gesien het”, was Sabiepark se piekniekplek op hol, maar my oog was ietwat stadig om die poublou gevleuelde met die karmosyn onderlyf deeglik te waardeer. Die laaste keer het ene oop en bloot by Herman en Rina le Roux se plek by Burchell’s Lodge langs die Krugerhek kom sit, wel, met kenmerkende skugterheid, met sy rug na ons toe gekeer. Selfs ek kon die prentjie egter inneem.
Die verskeidenheid vleiloeries is ook ‘n plesier vir die oog, maar, soos die trogon, is hulle nie werklik loeries nie. In Engels heet hulle “coucals”. Kenneth Newman koppel hulle aan die koekoek-familie.
Die grysloerie of kwêvoel … wel, dis ‘n anderster “loerie” daai. Lyk vir my baie soos muisvoëls op steroïde waar hulle langs die Wildtuin se paaie in veral doringbome sit en krys: “kay-waaay”. Daardie roep het vir die vaal voël die onvleiende naam “Go-away bird” verwerf.
Van die papegaai-loeries weet ek min. Maar hulle is immers tog papegaaie. Hoe ‘n papegaai – hoe kleurryk ook al uitgedos – ‘n loerie kan wees, is vir my duister.
Oor die Knysnaloerie kan ek maklik liries raak. Waar die groen voël met die wit kring om die oë sy verskyning waar ook al in die suide-Kaapse immergroen woude maak, bring hy genot. Een het in die Wildernis dae lank voor ons Sanparke-rondawel sit en vytjies pik-pik. My kamera het nie ophou klik nie.
Ek aanvaar die Knysnaloerie sal vele mense se kandidaat wees vir die titel “Mooiste loerie”. Hy’s ‘n waardige aanspraakmaker op die hoogste louere.
My persoonlike keuse sal elke keer die bloukuifloerie wees. Op die oomblik is hierdie manjifieke voorbeelde van gevleuelde vorstelikheid juis uiters aktief by ons Sabieparkse watergat. Soos trosse skarlakenrooi blomme hang hulle in die bome by die watergat, wip-wip koggelend van tak tot tak of buig hul elegante nekke laag om dorstige kele te verfris.
In vlug is daardie vlerke asemrowend – veral in helder sonlig. Om drie of vier gelyk in die bome by die watergat te sien, is kosbaar. Nou die dag was hier sewe. Vyf het in ‘n ry gesit en water drink. Ek het nie woorde nie ….
Comments