top of page
Uitmelkbos

DIE LEKKERSTE WERKPLEK





Gesoek: Suid-Afrika se lekkerste werkplek. As so ‘n ambisieuse soektog wel geloods sou word – stel ek ‘n aanspraakmaker voor wat ander mededingers harde bene sou laat kou. Mense wat Sabiepark se piekniekplek ken, sal seker nie verbaas wees nie dat daardie seer geliefde stukkie grond aan die Sabierivier my kandidaat is.


‘n Artikel oor die piekniekplek en Solly Sibuyi (op die foto) wat daar die septer swaai, verskyn in die Maart-uitgawe van die S.A.L. se invlug-tydskrif Sawubona. Dit word hier in in ietwat verkorte vorm in Afrikaans weergegee:


Dink net, jou “kantoor” is aan die Sabierivier met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op die rivier en die Nasionale Krugerpark aan die oorkant. Die enigste dak oor jou kop, is die blare van ‘n norring gedugte Bosveldbome bedags; en snags die sterrehemel – met sterre so helder dat jy daaraan wil raak.


‘n Verrassing op jou dagprogram is dalk ‘n leeuvangs vlak voor jou oë, ‘n trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete skielik swart spikkel. Soms – as jy gelukkig is – kom soek ‘n luiperd sonnetjie, maak wildehonde ‘n vinnige draai of slenter ‘n jagluiperd nonchalant oor die klippe in die rivier.


Om jou hang die amper tasbare rustigheid van die natuur soos ‘n beskermende kombers. Wat jy heeldag hoor, is net die seekoeie wat luidrugtig snork; visarende wat melancholies roep; tien teen een ‘n paar bloukuifloeries wat in ‘n sierlike trosvy sit en kok-kok-kok.


Dit klink te goed om waar te wees. Vir die die 35-jarige Solly Sibuyi van Mpumalanga is so ‘n idilliese werkplek egter werklikheid. Hy is die opsigter van Sabiepark – twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin – se piekniekterrein.


Die uitgestrekte grasperk is ‘n oase in die bos wat selfs in die middel van ‘n harde winter aanloklik is. Die wydse uitsig oor die rivier op die Wildtuin self sluit talryke drinkplekke en wildpaadjies in. Dit bied wildbesigtiging om van te droom – veral van die twee uitkykpunte op die houtdek wat met ‘n lang voetbrug bereik word.


Vir Solly is elke dag ‘n fees en hy draai nie doekies om nie: sy werk verruil hy vir niks op aarde nie – al daardie Sabiepark-eienaars wat heimlik daarvan droom om op vrywillige basis Solly se pligte te kom oorneem, kan dit dus maar op die maag skryf en met hul hemde doodvee, baie dankie!


Die netjiese Solly, altyd vriendelik, glimlaggend en hulpvaardig, is ‘n boorling van die Huntington-trustgebied middelin bekende wildparke soos die Kruger, die Sabi-Sabi, Mala-Mala, Londolozi en Sabiepark. Hy het in 1995 by Sabiepark begin werk, aanvanklik as assistent van die kleurryke indoena Willem Shabangu, Sabiepark se gas-ekspert, by die kiosk. Tien jaar later is die sorg van die piekniekplek aan hom toevertrou.


Sy taak sluit in om te sorg vir die sekuriteit – nie enigiemand kan sommer net instap nie – en algemene netheid. Hy sny byvoorbeeld die gras met ‘n trekkertjie. Boonop dien hy as onuitputlike bron van inligting vir die besoekers wat hoopvol met hul verkykers en kameras opdaag.


Op die ontvangstoonbank lê ‘n informele “logboek” waarin Solly en andere interessante waarnemings aanteken. Om daardeur te blaai, is ‘n openbaring. Die volume en verskeidenheid wild wat van Sabiepark se kant waargeneem word, kwalifiseer die piekniekplek sekerlik as een van die vrugbaarste uitkykplekke langs die ganse Sabierivier.


Hoeveel keer Solly al die Vyf Grotes – leeu, luiperd, olifant, renoster en buffel – daar van sy domein af gesien het, weet hy nie. Hy het opgehou tel. ‘n Resident-leeutrop – drie kraagmanne, vier wyfies en drie welpies – sorg vir sporadiese jagtogte, nie altyd ewe geslaagd nie. Olifante kom en gaan in troppe van tot 70 of een-een – daardie kolletjie van die Wildtuin trek hulle soos ‘n magneet. Hy sien ook gereeld die allerpragtigste Wildtuintonele soos kameelperde, koedoes, sebras, blouwildebeeste, waterbokke, impalas en ander wild uit die bos te voorskyn kom om te kom drink. Veral in die winter as die bos droog is.


Soms dring olifante die piekniekplek binne. Hulle klim ewe fyntjies oor die paaltjieheining en skokdraad of loop sommer goedsmoeds die versperrings plat. Dan is dit ‘n hele tedoe om hulle uit te kry. Daar word op blikke geslaan, “ramshorings” ( baie soos sokker se irriterende vuvuzelas) geblaas en in die algemeen ‘n grote lawaai opgeskop. Gewoonlik werk dit – uiteindelik. Daarna is dit vir Solly Operasie Skoonmaak. Olifantbolle en boomtakke lê besaai oor die hele terrein.


‘n Wonderlike toneel wat Solly in Augustus 2008 waargeneem het, was die gesamentlike oortog van sowat 300 buffels en 20 olifante – grotes en kleintjies – oor die Sabierivier Sabiepark se kant toe. Die tou buffels was eindeloos. Skielik kry die trop olifante aan die duskant van die rivier toe lewe, drafstap die water in, gooi aan die oorkant ‘n wye u-draai en kom in die spore van die buffels weer duskant toe. In n stadium was dit net olifante en buffels en buffels en olifante – so naby aan die oostelike uitkykdek dat jy die diere kon hoor en ruik.


Net enkele bevoorregte eienaars was daardie middag saam met Solly op die brug. Een, ‘n buitelander, was oorstelp oor die grootsheid van wat hy aanskou. Vir Solly was daardie opgewondenheid rede tot groot vreugde. Hy geniet dit as “sy mense” onvergeetlike ervarings by die piekniekplek het. Hy ken die meeste van hulle nie net by die naam nie, maar ook die nommers van hul erwe.


Solly het al gesien hoe leeus buffels, koedoes, impalas – en ‘n skamele vlakvarkie – op die ooptes oorkant die rivier plattrek. Die laaste keer dat ‘n ou mank buffel die slagoffer was, het die leeus vir ‘n oomblik hul konsentrasie verslap. Toe kom ‘n yslike krokodil haastig aangewaggel om hulle van hul vleis te probeer beroof. Die uiteinde was ‘n groot geveg. Vir Solly was dit ook een van sy groot oomblikke, en dit helderoordag.


Solly skud maar net sy kop oor die mense wat in die wildparke so ry en ry – en selfs nagritte onderneem – om wild te soek. Die wild wat hy sien, kom dan oop en bloot na hom toe.


Ook oor watervoëls het hy al uitgebreide kennis opgedoen, want dié is volop – van die groot reusereier en saalbekooievaar tot die klein visvangertjies en die nog kleiner bont kwikstertjie. Solly moet gereeld help om skaars soorte soos die watertrapper, waterdikkop en die bont kiewiet te identifiseer. As hy vasbrand, raadpleeg hy sy boeke wat hy byderhand hou. So leer hy self ook amper elke dag iets nuuts.


Vir Sabiepark se eienaars is Solly se kennis een van die pluspunte wat hy bied. ‘n Ander is sy skerp oog. Stop die bobaas-verspieder ‘n verkyker in die hand en hy kyk vir jou vinnig, vinnig ‘n leeu uit die bos uit.


‘n Bonus, sê Solly, is dat dit alles hom niks kos nie. Geen duur safari’s vir hom nie. Hy was nog nooit eens op ‘n wild-rit nie.


Solly is nie net lief vir sy werk en vir Sabiepark nie; hy is ook baie trots daarop. Al verdien hy nie ‘n sak vol geld nie, meet hy sy rykdom in ander terme. Dit laat hom baie bevoorreg voel om gedurig dinge te beleef waarvan baie ander mense geen kennis of ervaring het nie. Dit is wat elke minuut in sy persoonlike stukkie hemel op aarde vir hom dubbel en dwars die moeite werd maak.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page