top of page
  • Uitmelkbos

DIE LEEU EN DIE LAM

Toe ons die Honda Sondagoggend by Sabiepark se hek uitswaai ná sewe salige weke was op die swartbord ‘n verwelkoming en ‘n waarskuwing: Pas op, hier loop op die oomblik ‘n luiperd en leeus in die park rond!

Dit klink dalk ietwat anachronisties, maar nogal veelseggend van onse “private natuurreservaat” aan die Sabie, twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin.

Ja, hier in Sabiepark, waar ons – en die wilde diere – as ‘t ware onbelemmerd tussen mekaar rondloop, is dit soms werklik ‘n geval van die “leeu en die lam” lê langs mekaar!


Die “wilde” kant van die vakansie het in die laaste dae nog ‘n element bygekry. Die Sjangaan-huishulp Lucy het die onmiskenbare koppie van ‘n slangetjie by ‘n dakbalk van Tarlehoet se solderslaapkamer sien uitsteek.

‘n Slang in die gras – nogal ongemaklik om te dink waar hy oral in die dak kan rondseil.

Vroeër het Lucy Tokkie geroep om te slangetjie se “trousers” te kom inspekteer wat aan ‘n dakbalk hang. Nadere ondersoek bring aan die lig die “trousers” is sy ou vel. Oulike woord!

‘n Kleurryke element van die laaste dae was vyf bloukuifloeries saam by die watergat (die meeste nog). Die bome wat dáár soos ‘n ry soldate op aandag staan, is ‘n Laeveldse melkbessie, n Transvaalse saffraan, ‘n rooiboswilg, ‘n reuserosyntjie en ‘n gewone pendoring.

Ek glo dis die saffraan wat hulle nou lok. Sy klein ovaalvormige, groen, vruggies wat in trossies tussen die blare hang, raak nou ryp. Hulle is ook lief vir die rosyntjies wat in die somer ryp word.

Die vakansie het ten einde geloop op ‘n gelukkige noot: “ons” nagapie was toe nie die uil se slagoffer nie. Al drie was na die uilvangs terug op huil pos.

‘n Humoristiese noot was toe hierdie ratse diertjies na 12 jaar se verwondering oor hul ongelukvrye rekord in die digte verkeer by die piesangtafel uiteindelik hul feilbaarheid demonstreer.

Twee tref mekaar trompop in die lug. Wat n “mid-air collision”. Enetjie was ‘n ruk katswink, het dit gelyk.

‘n Bosbokrammetjie het Vrydagnag op die werf geslaap.

Japie Louw van 145 het vir my ‘n bottel Baron Edmond van 2007 van Rupert & Rothschild Vignerons gebring om dankie te sê vir die foto van die luiperd op sy werf (145).

Weens slordige eie statisieke is ek nie seker nie, maar dit is moontlik dat ons in hierdie vakansie 1000 dae in Sabiepark voltooi het. Beter kon ons dit nie gevier het as met só ‘n uitsonderlike vakansie en só ‘n uitsonderlike wyntjie nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page