Op ‘n gevorderde ouderdom het Margot Asquith speels gelamenteer: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Brood en begrafnisse, met ander woorde, in “plein” Afrikaans.
Dié dame het ‘n groot waarheid raakgevat. Trouens, omtrent al wat ook in my eie lewe in die laaste jaar of tien meer geword het, is die pyne, die sentimeters om my middel en die begrafrnisse wat ek bywoon.
Dit kap in ons bos, sê ons ou mense van die dood-natuurlike proses wat hom rondom ons voltrek. Dit is immers ‘n elegante manier om die toenemende optog van tydgenote langboompies toe te beskryf.
Uit die gekap, -kap, -kap in die bos kom die titel van my boek “Byl in my Bos”, wat pas by Griffel Media verskyn het.
Wat bedoel ek met “my bos”? Ek definiëer hom ruim as die bos waarin ek klein was, en waarin ek nou ‘n ou boom geword het met baie jaarringe en ‘n skurwe bas. My lewensbos as ‘t ware.
“Byl in my Bos” handel enersyds oor persoonlike herinneringe aan n 130-stuks oorlede politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie in ‘n koerantloopbaan van 36 jaar saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël, wat vooruit gegaan het.
Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders kan so ‘n wandeling tussen die langboompies deur darem dodelik vervelig geraak het!
Oor die soort inligting wat lesers in “Byl” te wagte kan wees, word die sluier op die agterblad van die omslag só effens gelig. Vir wat dit werd is, sit ek graag vandag daardie blad volledig hier op my blog:
“Oor die ‘leiers en verleiers’ uit ‘sy bos’ gee Van Deventer kostelike glimpsies. Een staatshoof sou ‘n skaapkop met sy knipmes takel. ‘n Ander het die skrywer met die hand lemoenskyfies gevoer. ‘n Deftige mevrou van Libertas se delikate doilietjies is in tronk-kamerpotte uitgespoel!
“Lees hoekom ‘n topredakteur as ‘n ‘swaar vermomde engeltjie’ en sy kollega as ‘n ‘goeie bliksem’ beskryf is; oor ‘n koerantveteraan wat in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed Kabinetskuiwe reg voorspel het, en oor die skrywer wat ‘n koeël in sy kuiltjie gekry het – toe hy onskuldig was!
“Van Deventer kap heerlike anekdotes oop: oor ‘n indrukwekkende galery “bekendes, rykes, slimmes, skones en sommer doodgewones”. Hy onthou die sluipmoorde op Hendrik Verwoerd en Chris Hani – maar vergeet nie die getroue tuinman Daniël wat ‘sy lewe’ verloor, en teruggekry, het nie.
“Die leser word toeskouer by vuurwarm direksievergaderings en vername etenstafels; hy hoor geheimpies oor ‘n onwaarskynlike lid van die Afrikaner-Broederbond se lojaliteit; ‘n formidabele volksmoeder se guitigheid by boere-opskoppe; ‘n omstrede skilder se eskapades met naakte modelle…
“Van Deventer verklap watter vrou die ‘onuitwisbaarste indruk’ op hom gemaak het, wie hy onthou soos sy eerste soen en wie ‘n liefdesbrief van 114 bladsye gekry het. Hy verswyg ridderlik die naam van die mooi ouderling wat, kaal bolyf, knielend voor haar leraar gestaan het!”
Wel, dis dan dit. Hoop hierdie voorsmakie het ‘n paar mense lus gemaak om “Byl” te lees!
Comentarios