top of page
  • Uitmelkbos

DIE KAALBAS BRUID


In die telegram-era (vorige blog) was ‘n bruilofstradisie dat die seremoniemeester, strooijonker of so iemand gelukwensings per telegram voorlees – gewoonlik tot skaterlag-plesier van die bruilofsgangers, maar soms tot diepe ongemak van die blosende bruidjie.

Dikwels is stouterige telegramme “voorgelees” wat uit die duim gesuig is, byvoorbeeld: “Bruidegom (naam), het jy kaal foto’s van jou bruid (naam)? Wil jy koop?”

Of: “Dra sy nog ‘n kondoom in haar handsak?”

‘n Ander kamma-telegram was van die “bestuurder van die wittebroodshotel”: “Het jul gewone kamer bespreek. Hoop dis in orde?” Onthou, dit was in konserwatiewer tye, en mense kon dalk wonder. Waar ‘n rokie draai ….

Ek en Tokkie het ‘n hand geskrewe telegram met die volgende raad ontvang: “Stoot die bedjies teen mekaar en stuur die rekening aan die ooievaar” (die teleks het seker opgepak). Ook ene met ‘n waarskuwing: “Slaap maar lekker. Volgende jaar is daar ‘n wekker.” (Ons het die raad gevolg, maar die waarskuwing was nie dadelik van toepassing nie Daar was darem nie so gou al ‘n wekker nie!)

Die telegram was ‘n beproefde kommunikasiemiddel tussen ouers en hul studentekinders doer ver, studerende (of dalk nie) by die een of ander universiteit of kollege.

‘n Student sou, volgens oorlewering, vir sy pa getelegrafeer het: “No mon, no fun, your son”. Pa het abrupt geantwoord: “Too bad, so sad, your dad.”

‘n Bekommerd pa van ‘n ander ou het getelegrafeer: “Geslaag of gedruip?” Dadelik het die telegram teruggekom: “Ja.” Pa telegrafeer daarop: “Ja wat?” Seun: “Ja, Pa.”

Woordekonomie was klaarblyklik ‘n vereiste, want die afsender is per woord bereken. Skoonma Marietjie, ‘n deugsame vrou wat haar sente omgedraai het, het hierdie vername les armswaaiend met nogal ‘n stortvloed van wrewelrige woorde vir Tokkie geleer.

Hulle is poskantoor op Bultfontein om vir skoonma se suster, Tant Sina, ‘n telegram te stuur. Tokkie moet die skryfwerk doen. Sy rig dit aan mej. G.S. van Wyk.

Skoonma loer oor haar skouer, sien wat sy aanvang en raas: “Wat vang jy aan, meisiekind? Ek moet betaal vir elke woord. Daardie mej., G, S en aparte van is geldmors. Stuur dit net aan Sina Vanwyk!”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page