top of page
Uitmelkbos

DIE JOOD SE NEUS

Binne hoorafstand van vier vroue rondom hul sestigs, trek die trant van hul gesprek hierdie ou gryse se aandag.

Hulle praat, klink dit, oor hoe onskuldig en onkundig hulle vier dekades gelede was teenoor hul moderne jong sussies van hierdie permissiewe, noem-alles-op-die-naam-tydvak waarin ons leef.

Alles wat my gespitste ore opgetel het, sal ek nie uitblaker nie. ‘n Man het sy eer.

Ene opper egter ‘n aangeleentheid wat, ek meen, tog ook van historiese belang is.

Dit is hoe uitbundig sy altyd op haar skool se sportbusse saamgesing het: ”Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus is sonder vel.”

Sy het doodgewoon nie die vaagste benul gehad dat in hierdie weergawe van die liedjie ‘n transponering van organe voorkom om dit mak te maak nie.

Een tydgenoot bely sy was presies in dieselfde bootjie. ‘n Tweede is verras oor die verwysing na die Jood se neus. By hul (plattelandse) skool in die goeie ou Vrystaat was dit in haar vlegseldae die Jood se pens wat nerf-af was.

Die vierde dame in die geselskap was in ‘n gerekende Meisieskool in Bloemfontein. A nee a, sy het geweet die liedjie het sy oorsprong in die Joodse besnydenis van die Ou Testament, lig sy haar verstomde vriendinne in. .

Die ander drie bly stil en spreek hul ontsag uit dat nommer vier op so ‘n tedere ouderdom so ingelig kon gewees het.

Moenie sleg voel nie, meisies. Dat julle so “dom” was, het bygedra tot jul oulikheid vir ons seuns-garde uit die 30’s en 40’s wat julle so van ver af verafgood het. Juis dit het gemaak dat ons julle op voetstukkies geplaas en as sulke begeerlike wesentjies beskou het.

Regtig, net om aan julle handjies te vat, het ons op allerlei plekke onbeheerbaar laat “tingle”, om nou maar die rondborstige Wiid-vroutjie van Centurion hier aan te haal.

Vandag se skoolmeisies sing seker nie meer “Valencia” nie. Wonder egter in watter idioom hulle na daardie Joodse orgaan sou verwys het wat in die liedjie ter sprake is.

Van transponering van organe in kinderstories gepraat. Ek is geen kenner van Pinnochio nie. Sal my egter min verwonder as ‘n nuwe weergawe die een of ander tyd opduik waarin dit nie sy neus is wat groei elke keer as hy ‘n liegstorie kwytraak nie.

Maar dan weer: dalk sal so ‘n resultaat hom aanmoedig om des te meer doelbewus te lieg! (

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page