Volgens die ou cliché vertel ‘n goeie foto meer as wat ‘n duisend woorde kan. Wanneer ‘n versameling top-gehalte foto’s dan die dag aan die bod kom, verwag mens ‘n resensent wat die kuns op alle moontlike maniere ken, en ten minste een of twee afdrukke van foto’s wat genoem word in die resensie, of nog beter – die bestes in die boek.
Toe ek hoor dat Through My Lens van Alf Kumalo gepubliseer is, het ek begin uitkyk vir ‘n resensie deur Cloete Breytenbach, die voor-die-hand-liggende ressensent vir só ‘n boek. Die Burger se boekeredakteur het ‘n stappie verder gegaan, met skitterende gevolge. Hy het Elza Miles die bespreking laat doen.
Hoekom die resensie nie hoofresensie op Maandag se blad was nie, weet nugter alleen. Ook kan daar geen oortuigende rede wees vir die versuim om een of twee van Kumalo se foto’s langs Miles se resensie af te druk nie. Ek dink spesifiek aan die foto van Dumile Feni en Julian Bahula, waarna Miles ook verwys.
Miles se resensie self is top-gehalte. Sy ken die konteks en presiseer Tanya Faber se bydrae tot die boek op joernalistiek onverbeterlike manier. En dan het sy die oog om te begryp wat Kumalo se fotografie so besonders maak. Ek glo nie daar is baie ander resensente wat die verband tussen Kumalo se tekenwerk as kind en die komposisies van sy foto’s as volwassene sou kon raaksien en uitlig nie.
Hierdie een resensie is genoeg om mens te laat vergeet van die Klaas Vakie-poging wat verlede week se boekeblad in Die Burger vir my was.
***
Ek het Neil Cochrane se swaartillende dog insigryke resensie van Hennie Aucamp se Die huis van die digter en ander liefdesverhale met waardering gelees (Die Burger). Hy het my in die verlede al erg geïrriteer met sy swaar hand, maar hierdie keer skryf hy met heelwat meer finesse.
In wese is dit ‘n baie skerp resensie wat Aucamp kritiseer omdat hy nie bereid is om, soos die ou skrywerswaarheid lui, “to kill your own darlings” nie. Cochrane skryf egter met soveel respek dat ek seker is Aucamp sal luister wanneer Cochrane sê die bundel is nie op dieselfde hoogstaande peil as sy vorige werk nie, dat dit ylerig is, dat sommige van die verhale maar liefs weggelaat moes gewees het, en dat Aucamp les bes homself te dikwels in sy verhale aanmeld.
Cochrane se sluitende opmerking, dat iemand van Aucamp se kaliber tot veel meer in staat is, wek uiteraard dadelik die vraag of Aucamp hoegenaamd nog geduldig genoeg is om ‘n vlekvrye bundel te lewer.
***
“Aangename weersiens!” wou ek uitroep toe ek sien Chris Barnard het Deon Meyer se Karoonag en ander verhale vir Die Burger bespreek.
Barnard (wat verlede week op ‘n warm stoel gesit het nadat hy een van die aandadiges was wat die Jan Rabie- en Marjorie Wallace-beurs aan André P. Brink toegeken het) is, ondanks sy skrale publikasie-oes en sy nuk om sy kreatiewe werk eerder vir die verhoog en silwerdoek te lewer, steeds een van die beste beoefenaars van die kortverhaal as literêre kunsvorm. Maar hy was ook op sy dag joernalis, en het ‘n baie goeie aanvoeling vir die meer populêre skryfwerk van iemand soos Meyer.
Die feit dat dit Chris Barnard is wat hierdie bundel goed vind, beteken vir my alles. Selfs al maak hy as resensent die fout om nooit aan te dui of al sewe die verhale in die bundel speurverhale is of nie. Dít moes ek eers uitvind toe ek die boek koop. (‘n Bietjie van ‘n gawe allegaartjie, laat mens net uitsien na die volgende roman.)
Comments