top of page
Uitmelkbos

DIE EEN OU NEEF WAS LINKS ….


Die egpaar Van Deventer en my neef, ds. Bertus


Die “neef wat links geneuk het”.

So sal my neef Bertus du Plessis se kinders my onthou, deel my niggie, Susanet, Bertus se suster, my mee toe ek haar verlede week bel om meegevoel oor sy dood te betuig.

Bertus het op 73, meen ek, op Potchefstroom agter die stuur van sy motor ‘n hartaanval gekry. Hy sou op Migdol begrawe word waar hy geruime tyd predikant was, eers in die NG Kerk en toe, met entoesiasme, in die APK.

In laasgenoemde skuif is ‘n lang storie opgesluit. Genoeg om te sê dat die politiek wat ek in die jare 80 as koerantredakteur verkondig het, hoegenaamd nie met Bertus se sienswyses geklop het nie. ‘n Toenemende verwydering het ontstaan.

Toe ek Susanet bel, het ek haar gevra om my meegevoel ook aan Bertus se kinders oor te dra – sy vrou, Martie, is al oorlede,

“Weet nie of die kinders Oom Hennie nog sal onthou nie,” het ek bygevoeg.

“Hulle sal goed onthou,” het sy geantwoord. “Oom Hennie is die neef wat links geneuk het.” Ek kon die glimlag in haar stem hoor.

Agterna het ek gepeins oor hoe ek Bertus sal onthou. Ongetwyfeld was hy die “neef wat regs geneuk het” – en ook nie net effentjies regs nie. ‘n Primêre herinnering is egter ver van die politiek verwyder. Bertus was naamlik die predikant wat my en Tokkie op 31 Desember 1966 op Bultfontein in die eg verbind het.

‘n Ietwat onwettige handeling was daardie huweliksbevestiging, moet ek meld, want die vereiste dokumente, insluitende die gebooiebrief wat daardie dae ‘n noodsaaklike voorvereiste was, het ontbreek.

Die een of ander kwaaddoener het op die vooraand van die troue in my koffer gekrap, met watter bose motief weet ek nie, en van die dokumente is weke na die huwelik in my skoonma se buurvrou se erf gevind waar dit nat en verkreukel teen die draad vasgewaai het.

Dankie, ou Bertus, dat jou “linkse neef” se geloofwaardigheid by jou in daardie stadium nog voldoende was om met die huwelik voort te gaan.

Ek sal Bertus ook onthou vir allerlei ongewone en onortodokse dinge, veral vir ‘n predikant. Hy het byvoorbeeld in sy emeritusdjare ‘n Uno’tjie gery wat slegs met ‘n knipmes aangeskakel kon word.

Bertus het nie daaraan geglo om ‘n motor te was nie. Water en seep sou so ‘n skok op die Uno se gestel wees dat selfs die knipmes sy kar nie aan die gang sou kry nie, was sy oortuiging.

Op ‘n keer vat hy die Uno vir ‘n versiening. Moenie die kar was nie, waarsku hy die garagemense. Maar toe hy sy rug draai, lag hulle ha-ha vir die dominee en was sy kar. Bertus moes laat haal word om met ‘n groot gesukkel sy Uno weer aan die gang te kry.

Of dit in daardie Uno is dat Bertus sy laaste asem uitgeblaas het, weet ek nie. As dit was, wonder ek hoe die karretjie daarna aan die gang gekry is. Sou iemand die knipmes-prosedure onthou het?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page