top of page
  • Uitmelkbos

DIE DUBBELBED

Hoe hanteer ‘n man dit as die vrou met wie jy 17 jaar heg en in relatiewe harmonie saamgeleef het, skielik jeukvoete kry, en ná die dood van die tweede vrou van haar eggenoot nommer een met amper onbehoorlike haas in sy arms gaan val?

Op Melkbos gons dit oor juis so ‘n gevallestudie – met ‘n ekstra kinkel daarby.

Vrou nommer twee was lank siek. Die oomblik toe sy haar laaste asem uitblaas, is vrou nommer een uitasem na haar ou tuisdorp aan die Weskus om “vir haar kinders te gaan kuier”.

Die volgende verwikkeling was ‘n oproep na Melkbos om haar verslae (gebroke?) 80-jarige saamblyer koeltjies mee te deel sy kom nie weer terug nie.  Is dit reg as sy en vorige manlief haar goetertjies die naweek kom haal?

Wel, die Melkbosser was nie uit sy vel nie. Hy was ongeneë om haar so uit sy lewe te sien verdwyn. Maar hy had nie juis ‘n voet om op te staan nie.  Watter saamblyers in die senior kategorie tref nou voorsorg teen sulke ontnugterings, met kontrakte, strafklousules en  so?

 Hy moes onwillig toestem.

 Op die afgesproke dag daag die herenigde egpaar by die woonstel met die mooi see-uitsig op.  Sonder veel omhaal is sy slaapkamer toe om te gaan pak.

 Melkbosser en eggenoot nommer een het ‘n rukkie in die sitkamer sit en oor koeitjies en kalfies gesels.

 Toe staan Melkbosser op, haal ‘n paar DVD’s van hom en sy jarelange gesellin op allerlei eksotiese reise in die buiteland uit die kas, en skakel die videospeler aan.

 “Kyk jy maar ‘n bietjie hierna,” los hy met groot teenwoordigheid van gees sy onwelkome gas alleen in die sitkamer terwyl die video’s rol.  

 Hy gaan sit vertroulik op die dubbelbed in hul slaapkamer en hou die inpakkery met ‘n innige seer dop. Ai, daardie dubbelbed sou ná 17 jaar se soet en suur voortaan maar eensaam en leeg wees…

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page