top of page
  • Uitmelkbos

DIE DOOD VAN ‘N TRADISIE

Bedaar, bedaar, vermaan my vriende, maar begrafnisse beroer nou een maal hierdie blogskrywer se gemoed – al is dit ook net die begrafnis van ‘n tradisie wat deur mense geskep is.

 So ‘n tradisie wat pas sag heengegaan het, is Media24 se ‘n jaarlikse ete vir vorige Naspers-amptenare, wat in later jare ingevolge die nuwe strukture aan die Heerengracht nolens volens hul Naspers-status vir Media24-status verruil het. (Ekself word nou links en regs aangedui as oud-hoof van Media24 se koerante wat ek nie is nie, omdat Media24 in my jare nog nie bestaan het nie.)

 Die laaste jare het ons vorige Naspersers in ons honderde hier teen die einde van November vir ‘n groot middagete opgeruk: gryse oud-kollegas, party bra sukkelend met kieries in elke hand, wie se paaie deesdae  nêrens anders kruis nie. Dit was ‘n dag van oor en weer groet en uitvra veel meer as ‘n dag van die gemeste kalf, hoewel laasgenoemde nooit afgeskeep is nie.

 Enkele dae gelede het ‘n taamlik abrupte briefie oor die lot van daardie ete gekom. Uit die pen van Esmare Weideman, uitvoerende hoof van Media24.  Die  maatskappy  moet sy “gordel stywer trek”.  Die broodnodige besnoeiings by gedrukte media beteken ook die valbyl vir onse ete.

 Is dit ironies nie, het ek verbaasde kollegas hoor brom, dat me. Weideman se briefie juis die dag op ons skerms beland toe Naspers kan aankondig sy gekonsolideerde omset het oor die afgelope ses maande met 22% tot R23 miljard gestyg.

Of: Is Koos Bekker, Naspers-baas met sy miljarde, nie pas gekroon as een van Afrika se 40 rykstes nie?  Kan hy nie sommer ‘n dankie-etetjie vir in vele opsigte die grondleggers van sy reuse-sakeryk uit sy bultende gatsak borg nie?

 Maar nee, dis mos nie hoe sake deesdae daarlangs werk nie. Immers: terwyl Naspers en sy leierskorps al hoe ryker en ryker word, word sy stiefkindjie Media24 (die gedrukte media) al hoe armer.   

 Drukmedia regoor die wêreld verkeer onder geweldige druk, lamenteer me Weideman. Swak plaaslike ekonomie maak omstandighede veel moeiliker as wat verwag is. Advertensie-inkomste is swakker as verwag en ons sirkulasies is onder druk.  

 “Wanneer inkomste bedreig word, doen ’n verantwoordelike maatskappy twee dinge: besnoei koste en probeer nuwe inkomstebronne kry. Ons fokus sterk op albei om te verseker dat Media24 die voorste mediamaatskappy in Afrika bly.” So word ons meegedeel.   

 “Ek (Esmare Weideman) is seker dit is vir u net so teleurstellend soos vir ons. Dankie vir u bydrae tot die groep deur al u diensjare. Ons hoop ons sal u steeds trots laat voel op Media24 en op Naspers, en dat u sal verstaan hoekom ons hierdie moeilike besluit moes neem.”

 Die uwe het daarop vir haar ‘n rugstige briefie geskryf:  Dankie vir haar  boodskap.Dit is goed dat die onsekerheid uit die weg geruim is.  Maar elke  tradisie wat sneuwel, is natuurlik ‘n hartseersaak. 

 Wat hierdie besluit des te meer hartseer maak, is dat een van die bloedmin skakels tussen hul ou maatskappy en ’n vorige korps lojale werkers daardeur onverbiddelik en finaal deurgehak word.  Met die einde van die tradisie is ook die enigste oorblywende skakel tussen ‘n groot groep Persmense vir altyd verlore.

 Media24 neem natuurlik sy eie besluite na die lig wat hy het. Ek. en ek glo ook ander kollegas van ‘n vorige era, respekteer sy goeie reg in die opsig volledig … al sal die rasionaal vir die besluit in die groter konteks van Naspers se geldsake waarskynlik vir baie van ons ietwat onbegryplik wees.      

 Dankie, nietemin,  vir die geleentheid wat ons voorheen gehad het om saam met soveel oud-kollegas aan te sit, en die bande onderling sowel as met ons maatskappy te versterk.  In my eie geval was dit vir ‘n lang skof van 15 jaar ná my aftrede.

 “Hierdie nuwe verwikkeling – ek gebruik die woord doelbewus – sal die dankbaarheid by afgetredenes oor die behoud van die Nasmed-band des te groter maak.” Minstens een verbintenis leef darem voort, al is dit dalk op geleende tyd.

 Na drie dae het ek nog geen boe of ba van die Heerengracht se leidsliede gehoor nie.  Seker te besig om nog planne te bedink om “koste te besnoei”.  Maar nee, ek het my voorgeneem om nie lelik te raak nie.

Naskrif: In die 70’s het Perskor groot vermaak aan ons Beeldmense verskaf deur vir Kersbonusse hoendertjies vir die personeel aan te bied.  “Hoendertjies, het jy gehoor!” Aan hoe dawerend ons daaroor gelag het, dink ek sedert me. Weideman se brief eenstryk.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

תגובות


bottom of page