top of page
Uitmelkbos

DIE DOLOS-KLUB


Ons moet ‘n dolos-klub stig – al ons ou gryses wat nog met dolosse gespeel het. Heerlik was dit om kleintyd in die verbeelding die sweep te laat klap terwyl die denkbeeldige sterke derduiwels in die juk vorentoe beur met ‘n ruwe draad-waentjie agterna.

Aan die vooraand van my 70ste bekyk ek verward en verwonderd die moderne speelgoedwinkels se rakke vol blink elektroniese begeerlikhede. Dan pak die nostalgie my na die brose kinderdae toe ons maar moes sien en kom klaar met wat op die plaaswerf beskikbaar was.

Die dolosse is gebêre in ‘n “speelgoedkis” waarin ware vir die spens op Middelin uit Silutshana se negosiewinkel naby Babanango gekom het. In dieselfde kis was ook murgbene met hul bruikbare ronde holtes, wensbeentjies, ‘n verskeidenheid draadjies en toutjies, velletjies en vetertjies en nog wat.

Die geheue raak al dof oor die detail – ongelukkig. Daardie beskeie middele kon vrugbare kinderverbeeldings egter in allerlei grootmens-dinge omtower wat ure afleiding kon verskaf. Dit onthou ek goed.

Die foto hierbo van die uwe met sy verslete binneband dateer uit die middel-veertigs. Die sinkheining wat die agtergrond vorm, herinner daaraan dat dit in Kimberley se agterplaas was. Ek kon daardie band ure in die klein agterplasie om en om rol. Brrmm-brrmm.

In dieselfde agterplaas was ook ‘n kleinhuise met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die een hoek. In die ander hoek was ‘n duiwehok en ‘n motorhuis met ‘n plat dak, waarvan ek afgevoeter het toe ek in standerd een was. My linkerpols was gebreek. Juffrou Muller, ‘n oujongnooi, het die wees-seuntjie (my pa is dood toe ek vyf was) met die gips in die klas op haar skoot laat sit, en, volgens my ma, was ek daarna ‘n bedorwe brok.

Vlieërs – “swallows” en “diamonds” was daardie dae gewild. Dit is deur maats se pa’s gemaak van riet en dun papier met “tails” van stukkies veelkleurige lap. Ons het ons vlieërs van Kimberley se grys mynhope gelanseer. Soms was die lugverkeer nogal aansienlik.

Van my eerste gekoopte speelgoed was Dinkey Toys; miniatuur-speelgoedmotortjies wat op ‘n haar soos die ware jakob lyk. Ek het nooit baie gehad nie, maar onthou veral een roomkleurige Vanguard met sy ronde agterstewe.

“Vet diere”, soos ons dit genoem het, het toe ook in die winkels gekom. Met die beeste, perde, skape en wat nog kon ‘n mens ‘n hele boedery opbou. My plaas was langs die huis, aan die kant waar die oopte was. Die ander kant was geheg aan die buurhuis. Dit was ‘n “semi-detach”, soos ons dit in daardie dae genoem het.

Om in ‘n “semi-detach” te woon, was ‘n duidelike teken dat julle nie ryk is nie. Vandag is duur meenthuise so ge-“semi-detach”, veral in voorstedelike oumens-kolonies.

My eerste fiets het ek gekry in standerd vyf in Durban, waarheen ons getrek het toe ma weer getroud is. Dit was nie om dowe neute nie. Daardie baie ordinêre fietsie het nie staan en stof vergaar vir naweek-gebruik nie, maar is dag vir dag van Botanic Grove, ‘n perdehoef-singel uit Botanic Gardens Road, via Nicholson Road na die Port Natalskool getrap – ‘n fris ent.

Een middag van skool af het ek vlakvoor Durban Girl’s High (dink ek) geval dat my boeke trek en die bloed van my stukkende knie drup toe ek voor die meisies die een of ander toertjie probeer uithaal het om hulle te imponeer. Dis egter ‘n ander storie.

In daardie stadium kon ek ook, as geskenk van Pa Malan, ‘n krieketkkolf vir my gaan uitsoek, want by Port Natal het ek ontluik as bruikbare kolwertjie. My keuse het geval op ‘n Roy McLean-kolf. Roy kon die balle klits amper soos ‘n Lance Klusener van later jare en het op nommer vier manjifieke honderde geslaan, ook vir die Springbokke. Hy was, helaas, ook bra dikwels uit vir ‘n eendjie.

Dit het my netso hartseer gemaak soos daardie pynlike middag toe Basil Kenyon se Springbokrugbyspan van 1951-52 teen die London Counties 11-9 verloor het. Ek het om en om ons huis in Botanic Grove gehardloop terwyl die trane oor my wange rol en ek skietgebedjies opstuur dat die blitsige vleuel met die lang broek, Chum Osche, tog maar in die laaste doodsnikke die wendrie kon gaan druk. Ai, die eindfluitjie het te gou geblaas.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page