top of page
  • Uitmelkbos

DIE “DING”EN DIE “DAAD”

Die vrymoedigheid waarmee deesdae in die media as ‘t ware gulp oopgeknoop word (bestaan gulpe met knope nog?), herinner hierdie ou gryse joernalis aan die dae lank-lank gelede toe ons oor dinge onder die belt ietwat skroomvalliger berig het.

Dat ons die presidensiële penis so op sy wetenskaplike naam sou noem, was eenvoudig ondenkbaar. Beskrywende woorde vir die kontrei onder die naeltjie was taboe, ook die sesletter-woord vir die vroulike weergawe – ja, man, die ene wat rym met Regina! Al die “troetelnaampies” (?), manlik en vroulik, wat nou oral in beriggewing insluip, was eksklusief vir die manne se kroegpraatjies of as die vroue uithaak by ‘n bruidskombuis.

Ouer joernaliste kan interessant bespiegel oor wat in hul berigte oor Brett Murray se berugte skildery sou uitgehang het. “Skaamdele” dalk? Nee, miskien darem te eksplisiet. Ek kan my redakteurs herinner wie se voorkeur sou wees vir “stuk van sy onderlyf”. Een spesifieke ou sou dalk met sy rooi pen “stuk van sy onderlyf” doodgekrap het en vervang het met ” ‘n deel van sy anatomie”!

Glo my vry, in daardie tyd is selfs nog weggeskram om “molestering”of “verkragting” by die naam te noem. “Molestering” het dalk nog net naamloos in donker hoekies plaasgevind. “Verkragting” – nou-ja, die bestaan daarvan het darem formele erkenning gekry in die begrip “kriminele aanranding”- asof alle aanranding nie krimineel is nie.

Dat klere (selfs onderklere) in die proses woes afgepluk of -geskeur sou kon word, was te verregaande om hoegenaamd te kontempleer. Nee “klere is versteur”. Selfs woorde soos gulp, broekie, bra (eerder buustelyfie) is eenvoudig uit berigte geredigeer.

“Seks” was eenvoudig “die daad”. “Die daad het plaasgevind”- finisj en klaar. Die daad kon “beskernd” plaasvind of “onbeskermd”. “Kondoom” – wat’s dit? Nuuskierige kinders kon raai watter vreeslike ding daardie “daad” dan kon wees, maar hulle durf nie vra nie. Sulke monde sou “met seep uitgespoel” word!

Een bloeddorstige vrou met ‘n skerp mes het in die jare 90 dalk meer gedoen as om haar man van sy “skaamdeel” te bevry. Haar “daad” (wat geen seksdaad was nie!) was dalk in ‘n sekere sin ook vir die media bevrydend. Die “stuk van sy anatomie” wat by John Wayne Bobbitt in die slag van die slagtersmes gebly het, was waarskynlik, in my nadenke oor hierdie groot saak, die kritieke faktor om die woord “penis” woerts uit die mediese handboeke te lig en op die koerante se voorblaaie staan te maak (as dit nou ‘n gelukkige woordkeuse in die betrokke omstandighede is!).

Na die Bobbitt-era is stelselmatig in die media al hoe minder doekies omgedraai. Kan ek julle lus maak met die belofte om volgende keer meer (en met groter openhartigheid) oor hierdie eiesoortige media-evolusie (tog net nie media-ovulasie nie, asseblief!) te skryf?

1 view

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page