top of page
  • Uitmelkbos

Die Byl in ons bos

My eerste huisvoorsitter in Kollege-tehuis op Tukkies in 1958 was Leon Visser. My tweede Faan van Huyssteen. In 1960 het Heystek van Rooyen, boerseun van Roedtan, die leisels gevat.

Heystek is pas in Pretoria op 72 aan sy hart oorlede – die Byl is weer in ons bos! Leon Visser was een van die Kollegemanne by die roudiens, met sy Kollegedas aan.

Sy teenwoordigheid (met die Kollegedas) getuig iets van die kameraderie van ons geslag Kollegemanne. Al loop ons paaie soms ver uiteen, vergeet ons mekaar nie.

Van Heystek onthou ek veral een enorme irritasie vir eerstejaars – hulle moes in die winter in ou Kollege op die kampus in die koue ablusieblok waardeur die windjie bytend kon swiep, die houtbank van die toilet vir “meneer van Rooyen” gaan warm sit.

Rus in vrede, Heystek!

Naas du Toit is een van die ander oud-Kollegemanne wat ook by Heystek van Rooyen se roudiens was.

In lewende lywe, moet ek byvoeg, want in my boekie In Kamera (Protea 2003) verklaar ek hom op bladsy 139 as een van die heengegane Kollegemaats. Jammer, Naas, die berig van jou oorlye was ietwat oordrewe. My inligting was, soos so dikwels met koerantmense die geval is, egter uit “onberispelike bron”.

Bly om te kan meld dat Naas nog perdfris en gesond is. Ek trek graag terug wat voorheen valslik oor hom verkondig is.

Dink ek aan Naas, dink ek onwillekeurig aan ‘n storie rondom my eerste wiele wat ek aan die begin van my derde jaar gekry het. My “Piewdjou” het ek my kar genoem wat uit die laaste erfgeldjies van pa Seun van Deventer se kant af aangeskaf is. Jare later het ek verneem die korrekte Franse uitspraak is eintlik “Pudjou”.

Hoe dit ook al sy, om onklaarblylike redes het iemand vir my wiele die naam Santa Maria opgetower – ’n Spaanse skip wat daardie tyd in die nuus was.

’n Komplikasie was dat ek maar pas, op 4 Februarie 1960, my rybewys gekry het. Trouens, pa Malan het my met die Peugeot leer bestuur. ’n Amperse onvermydelikheid weens die onervarendheid agter ’n motor se stuur was dat die Santa binne weke blinkpens bo gelê het.

Op pad met die oulike Retha Vaandrager na ’n tafeltennisoefening het ek een aand vlak voor die Moedersbond op die hoek van Farenden en Schoeman in Pretoria ’n stopteken teen ’n jakarandaboom misgekyk. Ek het reg voor ’n ander motor ingery. Die slag het mense uit woonstelgeboue laat nader storm. Iemand is met Retha vort hospitaal toe en ek was bra bedremmeld. Gelukkig was net Retha se horlosie daarmee heen en haar arm rou geskuur op die teerstraat. Maar daardie nag het ek my hart lê en uithuil oor my flenterse voertuig; boonop nie verseker nie. Wat sou my ouers sê? Wie sou betaal?

Die volgende dag het my tant Minnie Smith Klerksdorp toe gebel. Haar mededeling aan Ma was kort en kragtig: “Hennie staan hier by my. Hy makeer niks nie. Maar hy was in ’n ongeluk. Sy kar is vol duike.” Die blydskap oor haar seun se ontkoming het gelukkig Ma se skok oor die skade oortref. Die Santa is na ’n woonbuurtgarage iewers in die Brooklyn-omgewing met gebrekkige duikklopgeriewe vir herstelwerk. Dit het lank geduur.

Op ’n dag vra ek speel-speel vir Naas: “Wanneer dra jy by tot die Van Deventer-hulpfonds?” Hy begin stotter en verduidelik hy wag net tot die volgende maand se sakgeld opdaag. ’n Paar weke later is’n koevert onverwags aan my oorhandig met bydraes van die Kollege-manne. Dis nou vir jou kameraderie. Ek wonder egter of Naas ooit geglo het dat ek werklik totaal en absoluut van daardie onverwagte insameling onbewus was!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page