Jan-Jan Joubert is my soort resensent. Hy sê wat gesê moet word – aan almal wat moet hoor.
In die geval van sy resensie van Jeremy Gordin se “Zuma – A Biography” in vanoggend se Burger, is sy teiken die koerantleser, die skrywer en die uitgewer.
Vir die koerantleser gee hy inligting oor wat in die boek staan, en dat dit waarskynlik raadsaam sal wees om te wag vir later boeke oor dieselfde onderwerp as mens ‘n werklik gesaghebbende boek soek.
Volg jy Joubert se betoog, is dit duidelik dat hy op heel beskaafde wyse vir skrywer én uitgewer uittrap sodat daar geen twyfel by beide kan wees dat hulle op groot skaal drooggemaak het nie.
Omdat hy self ‘n joernalis is, besef Joubert dat boeke soos “Zuma – A Biography” dikwels saamgeflans word uit ‘n magdom artikels, berigte en rubrieke. Die persoon wat die saamflansery pleeg, is dikwels iemand wat deur die uitgewer nadergeroep is om te help met die sleurwerk waaraan die skrywer self geen erg het nie. As hierdie persoon se werk benede ‘n aanvaarbare peil is, is dit gewoonlik die skrywer wat die kritiek moet verduur.
Is hy daarom vry te spreek? Beslis nie. Dis tog een van die aksiome van die uitgewerswese dat die persoon wie se naam op die omslag en titelblad is, pa moet staan vir die foute in die boek. Soos ek dit verstaan, is die outeur ook die persoon wat heel laaste na die proewe kyk, wat moet sê of hy vir lief neem met wat in sy naam aangevang is.
En die uitgewer? Kom ons aanvaar dat Jonathan Ball, die uitgewer, besef dat hierdie publikasie nie dié uitgewery se gebruiklike hoë standaarde handhaaf nie en daaroor spyt het. Maar kan mens ook aanvaar dat Jonathan Ball se mense ‘n standpunt sal inneem oor die een werklik verdoemende aspek wat Joubert in sy resensie uitlig, naamlik dat ‘n boek gepubliseer is waarin simpatie betoon word met onetiese joernalistiek en wat die ondergrawing van die regsproses vergoelik.
Jonathan Ball behoort verantwoording te doen – dít is wat hierdie resensie vir my sê.
Comments