top of page
  • Izak de Vries

Die Benederyk


Ja, ek het uiteindelik Die Benederyk klaargelees.

Maklik was dit nie, maar dan skryf Ingrid Winterbach (aka Lettie Viljoen in haar jeug) nie boeke vir die prulmark nie. Geensins. Ek was die ander dag weer in een van ons land se voorste boekwinkels, toe draai die gesprek juis na Ingrid Winterbach. “Sy is die beste romansier in Afrikaans!” was die winkelbestuurder (self ’n vermaarde skrywer) se kommentaar.

Ek het so effens hieraan gekou en toe darem gevra dat André P. Brink, Etienne van Heerden en Elsa Joubert minstens as gelykes gesien moet word. Ek is ook nie seker of ons Marita van der Vyver se bydraes moet geringskat nie. Dit ter inleiding, want dit is belangrik om te besef dat daar heelwat redes sou kon wees waarom mense opgewonde kon raak oor dié boek.

Die storie? Aaron Adendorf is ’n skilder. Nogal goed. Hy het elke derde jaar ’n solo-uitstalling by bepaalde galery. Hy leef van sy kuns. Dit gaan dus goed met hom. Maar dan gebeur twee goed:

1. hy kry ’n kômin nuwe buurvrou (wat kan aanhaal uit Paradise lost); en

2. die eienaar van sy galery word siek.

Dalk moet ons ’n derde byvoeg: Aaron word nie jonger nie en die kunswêreld is op soek na nuwe, jong helde.

Gooi op hierdie palet boonop ’n broer met verbale diarree, dan raak dit ’n vreemde, selfs moeilike, leeservaring.

Aaron is ’n kúnstenaar en hy lewer voortdurend kommentaar op die kuns wat gedurig vervlak na die gemeenplase. Terselfdertyd word Die benederyk ’n metafoor vir woordkuns wat gewoon weier om die knie te buig voor toeganklikheid.

Ja. Ek het dit gelees. Ek het dit ervaar. Ek het dit beleef. Ek kan dit sterk aanraai vir mense wat besef Lettie Viljoen is nog springlewendig en wat weet Ingrid Winterbach is ’n skrywer waarvan ’n mens moet kennis neem. Dit is egter nie ’n boek wat jy die hand van ’n ambivalente leser moet stop nie.

Ek is nie seker of ek alles in die boek verstaan het nie, aanvaar dus maar my bydrae met ’n knippie sout. Ek het wel gedink die einde laat ’n sprankie hoop.

Koop, lees en ervaar woordkuns wat verseg om gemeenplasig te raak.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page