top of page
  • Izak de Vries

Die ATKV wend Wêreldboekdag aan teen geweld

(Foto: Mercia Eksteen) Mercia Eksteen, die ATKV se kommunikasiebestuurder, het saam met Karien Brits, bestuurder: taalaangeleenthede, op die vooraand van Wêreldboekedag hulle voorstedelike lewens agter diefwering en hoë mure verruil vir ʼn nag in Soweto. Te midde van die xenofobiese geweld, is hulle twee met openbare vervoer na Soweto en het die nag daar oorgebly by Suzie Matlhola, wat wyd bekend vir die Saterdagskool wat sy die afgelope 16 jaar in Soweto bedryf. In die township het Britz en Eksteen boeke uitgedeel en voorgelees. Hulle het ook ingeloer by die ATKV-tak Vorentoe, in Soweto.Tienuur die aand stap hulle twee toe deur die strate van Soweto terug na hulle gasvrou se huis. Eksteen sê hulle: “kan nie uitgepraat raak oor die rustige, byna plattelande atmosfeer” daar in die strate van Soweto nie. Eksteen vertel: “Mense wat in Soweto woon en in ander dele van Johannesburg werk, haal douvoordag reeds busse en taxi’s om betyds by die werk te wees.” Eksteen, Britz en Matlhola was dus gister, op Wêreldboekedag, stiptelik om 05h15 met hulle kartondose vol boeke in die pad geval na die bushalte. Die twee wit gesiggies is hartlik ontvang op die bus en, nadat die doel van hulle reis in Tswana verduidelik is, was hul medepassasiers maar te gretig om te hoor wat in die boeke staan. Hier is Eksteen se woorde: “Suzie het tussen die voorlesery benadruk hoe belangrik dit is dat ouers weer vir hulle kinders moet voorlees, en dat ouers soms die televisie moet afskakel. Nadat iemand iets in Suid-Sotho voorgelees het oor die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, het die passasiers spontaan saam begin bid – vir die land, en ook vir die dag wat voorlê. Daarna het die mense spontaan begin sing oor die liefde van God.”

6 views

Recent Posts

See All
bottom of page