top of page
  • Izak de Vries

Die ander Izak

Izak de Villiers is dood.

Izak en Izak het ’n hele paar keer met mekaar gesels. Dikwels was dit oor bitter prakties goed soos: Naspers wat gedurig sy tantiemestate vir my stuur, of sy ITB3 wat in my posbus beland, of so iets. Dan skryf Izak aan Izak en sê: “Ek pos dit vir jou...”

Nee, ek het hom nooit van aangesig tot aangesig ontmoet nie, maar ek en Izak was gereeld in e-poskorrespondensie. Hy het gewoonlik geteken: “Die ander Izak”.

Dít sê nogal iets van hom, want hy is natuurlik die “oorspronklike Izak” in die letterkunde.

Lank voor ek hom leer ken het – via e-pos – was hy vir my die dominee wat die krag van die woord seks die beste verstaan het. Onthou julle die Sarie onder Izak de Villiers se hand? Die “Vriendin vir elke vrou” het met elke uitgawe die woord seks iewers op die voorblad vertoon.

Slim dominee.

Dankie tog vir e-pos. Ek sit hier met ’n paar kosbare stukkies lewenswyshede wat die slim Izak aan die jong Izak gestuur het. Toe ons van huis verander het, was Izak se kommentaar: “Nou kan jy sommer Nuweland toe stap.”

Hy het ook mooi woorde oor my seun gehad, en het my gereeld aangemoedig om die beste te gee vir dié knaap. Izak was ontsettend trots op sy aangenome dogter, en was opgewonde toe hy uitvind ons deel meer as net ’n naam – vandaar sy belangstelling in my aangenome seun.

Graag sou ek hom die hand wou skud. Nou nie meer moontlik nie.

Daarom net weer: Dankie tog vir e-pos.

Mooiloop, Izak. Jy’s tuis. Maak seker die woord seks verskyn elke week op die voorblad van die Hemelrapport.

Die Tweede Izak

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page