My vriend Piet Parlement (op sy dag ‘n bekende lid van die ou Volksraad) het op Melkbos kom kuier. Ek herinner hom aan die aand toe die aarde gebewe het. Hy lig net sy glas in ‘n skalkse heildronk en ons lag lekker saam oor sy kort woonwafase.
Piet is ‘n deeglike kêrel. Toe hy sin kry in ‘n woonwa, het hy wyd begin lees oor die onderwerp. Partymaal het hy sommer by woonwaparke ingery en met ‘n verskeidenheid eienaars geselsies aangeknoop.
Hul geesdriftige vertellings oor onvergeetlike vakansies by allerlei begeerlike bestemmings gee die deurslag. Hy doen toe sy keuse, en met ‘n meevallertjie uit ‘n vergete niggie se boedel stap hy by ‘n handelaar in om sy droom te verwesenlik.
‘n Verruklike model was dit inderdaad. Uiters modern en met elke denkbare gerief vir ‘n ontspanne vakansie. Piet begin as ‘t ware die slapies tel totdat hy die eerste keer sy huis op wiele vir ‘n gesinsuitstappie kan haak.
Toe D-dag aanbreek, was die logistiek al hoeveel keer uitgewerk, en was die moets en moenies aan elke gesinslid volledig bekend. Ook die staanplek is met sorg uitgesoek: ‘n rustige oase van reusebome, netjiese grasperke en ‘n blouselblou meer waarin ‘n kantige bergkruin op sy rug lê.
‘n Genotvolle, kommervrye langnaweek het gewag … hopelik die eerste proeseltjie van ‘n nuwe heerlikheid wat belowe het om net aan en aan te hou. Die eerste aand is vroeg ‘n vuurtjie aangesteek. Bier in die hand, strek Piet hom later agteroor uit op ‘n opvou-swembadstoel en met behae en dankbaarheid mymer hy oor hoe goed die lewe vir hom is.
Teen slapenstyd was hy in ‘n romantiese stemming. Gelukkig was die kleinkinders wat saamgebring is, moeg gebaljaar. Hul rustige asemhaling verskaf algou die sein dat die tyd aangebreek het om ‘n perfekte dag liefdevol af te rond.
Maar “oupa! ouma!” klink dit toe skielik ontsteld uit die verste hoek op. “Is hier ‘n aardbewing?” vra ‘n benoude stemmetjie. “ Hoekom skud die karavaan so?” koor ‘n ander. ‘n Kortaf ontkenning was onvoldoende. ‘n Verduideliking is geverg, en is stotterend verskaf. Nie juis oortuigend nie.
Die Maandag het Piet die koerant gebel en navraag gedoen oor sy advertensietarief.
“Onder watter hofie? ” “Woonwaens te koop,” was Piet se antwoord.
Omdat hy nog altyd ‘n man met ‘n goeie sin vir humor is, begin hy toe op die daad tot die advertensiemeisie se verbasing onbedaarlik giggel.
コメント