top of page
  • Izak de Vries

Dick Francis is dood

Ek het Dick Francis ontdek toe ek in die hoërskoolbiblioteek toegelaat is. Na ek een van sy boeke uitgeneem het, was daar geen keer aan my nie. Ek het al die ander in die bib ook gelees.

Richard Stanley Francis (gebore 31 Oktober 1920) se pa was ’n jokkie, en later stalbestuurder, so perde was daar van die begin van sy lewe af. G’n wonder nie dat Dick later óók ’n jokkie geword het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Francis in die Royal Air Force, maar daarna is hy terug stalle toe.

Tussen 1946 en 1957 het hy meer as 350 wedrenne gewen en was die Kampioenjokkie tussen 1953 en 1954.

In 1953 het die koninginmoeder hom gevra om vir haar te ry. Hy was haar jokkie tot aan die einde van sy loopbaan.

Gedurende dié tyd het hy ook die mees dramatiese oomblik van sy loopbaan beleef. Dit was in 1956, gedurende die Grand National (Brittanje se GROOT wedren). Francis het Devon Loch gery vir die koninginmoeder en was op pad na ’n oorwinning. Skielik het die perd net onder hom meegegee en geval.

Nóg ’n groot val, in 1957, het hom laat uittree, waarna hy sy outobiografie The Sport of Queens geskryf het. Vir sestien jaar lank was hy ’n perdeskrywer vir die Sunday Express, maar in 1962 verskyn Dead Cert, ’n riller wat oor perde gaan.

Die res, nou ja . . . Veertig boeke later sou ’n mens ’n heel ander biografie oor hom kon skryf.

Francis was nuuskierig, hy het navorsing gedoen, hy het gelees en gevra. Sy seun, Felix, onthou hoe opgewonde Francis kon word oor goed wat hy lees:

“The production of a Dick Francis novel has always been a mixture of inspiration, perspiration and teamwork. The first one was published when I was nine, and I grew up in a house where breakfast talk would be about the damage a bullet might do to a man’s guts rather than the more mundane topics of everyday life.”

Felix het hierdie gesprekke onthou en het op nasionale vlak vir Brittanje meegeding in skyfskiet en daarna het hy gaan fisika studeer.

Jonathan Derry, die fisika-onnie in Twice Shy, is duidelik op Felix gebaseer. (Terloops, Felix, die jongste van twee seuns, is heelwat groter as sy pa; hy sou waarskynlik nie ’n goeie jokkie gemaak het nie.)

In 1991 het Felix bedank en het voltyds vir sy pa begin werk – as navorser en as bestuurder van Francis se fortuin. Die gogga het hom só gebyt dat hy later begin saamskryf het. Vir die laaste drie romans waaraan Dick Francis gewerk het, Dead Heat, Silks en Even Money, was Felix ’n medeskrywer. (Ek wonder of hy sal aangaan op sy eie, ek vermoed egter hy sal.)

Dick Francis is gister, 14 Februarie 2010, oorlede.

Saluut, ou grote!

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page