Oor Paulus se “doring in die vlees” (2 Kor. 12:7) is rakke vol teologiese boeke geproduseer. Bespiegelings dek ‘n veld so wyd soos die Heer se genade. Party ontleders verklaar met groot stelligheid iets fisiek het met hom geskort, soos dat hy dalk gehakkel het of swaksiende was. Ander diagnoseer ‘n psigiese probleem soos depressie. ‘n Derde groep meen dat die frustrasies van sy selibate lewe dalk vir hom ‘n sware las kon geword het.
Hierdie goeters suig ek nie uit die duim nie. Ek het dit op gesag van onse een Melkbos-dominee, dr. Francois Hanekom, wat gister boeiend oor die onderwerp gepreek het. Hy is ‘n betroubare en geloofwaardige getuie.
Ek het my eie teorie, nie gegrond op teologiese kennis of mediese insigte nie, maar op grond van eie ervaring. Ek dink die arme het met ‘n gekrokte skouer rondgeloop. ‘n “Frozen shoulder” soos dit in die omgang bekend is of “adhesive capsulitis” soos dokters dit noem (weet ongelukkig nie hoe om daardie “adhesive” in Afrikaans te vertaal nie, want dit is definitief nie hegpleister nie!).
Dis nou vir jou ‘n doring in die vlees daardie!
Jou skouer is chronies so seer dat jy nie kan slaap nie. Jy bars veral as die kwik daal. Jou arm raak stram en dom en jou vingers kan nie eens meer eenvoudige takies verrig soos om ‘n gordel in te ryg nie. Jy raak – as jy ‘n fyn besnaarde mens is – gefrustreerd en knorrig. Depressie is jou voorland.
Oor die term “frozen shoulder” was hier, terloops, by die Koeberg-rolbalklub op Melkbos onlangs ‘n hele heksejag. ‘n Nuwe lid het opgehou speel pas nadat hy begin het – glo weens ‘n “frozen shoulder.” Wie het die man ‘n “koue skouer” gegee, wou van die senior lede toe omgekrap weet!
Maar laat ons ligsinnig raak nie. ‘n Gekrokte skouer is ‘n ernstige saak waarmee die medici nie altyd raad weet nie. Van hulle glo jy los die ding net vir 18 maande – dit sal wel weer regkom. Agttien maande! Gevalle is egter al opgeteken waar arme drommels al tot drie jaar en langer gely het. Drie jaar en langer!
In my eie geval het ‘n goed gemikte kortisooninspuiting snelle verligting gebring, dankie tog. ‘n Vriend in dieselfde bootjie het laat weet laserbehandeling doen vir hom wondere. Hierdie blog is egter nie ‘n mediese adviesrubriek nie – raadpleeg liewer ‘n M.B. Ch.B.
‘n Vriend in Centurion wie se “capsulitis” lank voortgesleep het met erge belemmering van sy aktiwiteite en ernstige komplikasies vir sy lewensgenot, rapporteer ‘n vreemde ervaring. Hy en sy vrou tel een dag ‘n glasblad op. ‘n Verblindende pyn skeur deur sy arm van die skouer af ondertoe asof ‘n vuurwarm kool in ‘n aar opgedruk word. Die arm verkleur baftablou. Maar toe’s die pyn weg. Permanent.
Moet sê nadat ek van hierdie wondergenesing gehoor het, het ek meermale nadenkend na die glasblad op my lessenaar begin loer. As die kortisoonbehandeling nie gehelp het nie ….
Hoekom ek dink Paulus se “doring” is skouersake is onder meer oor die kombinasie van ellendes wat laasgenoemde meebring: erge fisieke pyn, inderdaad, maar ook psigiese laste en geestelike lyding.
Daarby sou ‘n skouerkwaal seker nie onverklaarbaar gewees het nie by ‘n man wat so hard kon werk – iemand met die spreekwoordelike breë skouers, wat so toegewyd skouer aan die wiel gesit en bly reis en skryf, reis en skryf het om die Goeie Boodskap te bring.
Nog ‘n faktor in my opstapeling van gronde vir my teorie is dat ‘n slegte skouer ‘n taamlike algemene toestand is. Een uit elke vyf mense sukkel glo die een of ander tyd met ‘n skouer. Paulus kon maklik een van daardie “een-uit-vyfs” gewees het.
Ondanks die algemeenheid is “capsulitis” egter ook ‘n geheimsinnige skeet. Tot vandag is die mediese wetenskap dit nie eens wat presies dit veroorsaak nie. Medici kan as ‘t ware nog rakke vol boeke oor die onderwerp skryf.
Dan ook, as ‘n mens met dié nare kwaal ‘n potjie geloop het, soek jy ‘n simaptieke skouer (soos Paulus by die Korintiërs), al is jy nie van nature ‘n klaerige mens nie.
Ten slotte:
Liewe lesers met gekrokte skouers, laat ons skouer aan skouer staan teen mense wat ons pyn en lyding geringskat.
Liewe lesers met heel en gesonde skouers, mag ek op u ‘n beroep doen: moet tog nie die skouers ophaal of, erger, iemand oor die skouer aankyk (die goeie Afrikaans vir ‘n koue skouer gee) as hy/sy oor skouerpyn by jou kla nie.
Steek liewer die arms uit en help, asseblief, hetsy met ‘n masserinkie of selfs net ‘n troostende woord!
Comments