top of page
  • Uitmelkbos

DAPPER SEEMANNE


5-IMG_0733

3-IMG_0718

4-IMG_0724

Kom van ons omswerwinge tuis met ‘n enkele sertifikaat in my koffer: Een wat onder handtekening van die MSC Opera se kaptein, Paolo Russo, plegtig sertifiseer dat die uwe die titel “Brave Seaman” met vlieënde vaandels (?) verwerf het.

Die toets vir dapperheid was om op 4 April 2015 in die geselskap van Koning Neptunus die ewenaar iewers tussen die eiland St. Helena en die stad Lanzarote op die Kanariese eiland Arrecife oor te steek. Vir my beteken sulke inligting niks, maar ter wille van meer tegniese lesers meld ek graag dit was op breedtegraad OO*00 – lengtegraad 12*37 W; met die sterretjie as substituut vir die gradesimbool wat ek nie op die sleutelbord vind nie.

Eintlik meen ek dat drie vergulde sertifikate ‘n beter weerspieëling van die reis sou wees. Dit is ‘n ander storie waarby ek sal kom. Moet egter eers vertel van die Koning Neptunus-gedoente.

By ervare ewenaar-oorstekers is voorspooksels verneem dat die okkasie nie vir sissies is nie. Bespiegelings was onder meer dat beddens omgedop sou word. Die uitnodiging op die skip se daaglikse program van Saterdag 4 April het onervare kruisvaarders des te meer stof tot nadenke (seker ‘n swak beeld op die oop see!) gebied. Ons is skriftelik gewaarsku: Wees tog maar versigtig met jou kamera rondom die swembad. Dit kan nat word.

Sy koninklike hoogheid Neptunus se partytjie was die Saterdagoggend vir 11:15 op dek 11 geskeduleer. Diegene wat begerig was om aan die parade deel te neem, moes hulle reeds om 10:15 by die Byblos-disko op dek 12 aanmeld. Die uwe het ná versigtige oorweging op grond van sy rype ouderdom en gevolglike skete van die skelet teen deelname besluit, maar tog by die Byblos gaan inloer.

Wat waargeneem is, is medepassasiers wat geesdriftig met lyfverf betakel en met lang en ronde ballonne potsierlik opgestop is om so belaglik as moontlik te lyk vir die seremonie wat sou volg. Om 11:15 toe Neptunus en sy geselskap opdaag en die parade begin, het ek vir my en my Canon ‘n strategiese plekkie op dek 12 losgewoel. Ek sou die “partytjie” liefs van bo af as waarnemer betrag ten einde my kamera teen die watergevaar te beskerm.

Wel, wat daarna gebeur het, is ‘n lang, stuitige storie. In kort moes al die deelnemende passasiers hulle op die swembad se rand inwurm, nadat hulle eers die koning se seun, ‘n lewendige seekat, moes soen en vonkelwyn uit ‘n reuse-sopkom met ‘n opskeplepel op hul koppe omgekeer is. Langs die swembad is meel op hulle uitgegiet. Toe kakao. Toe tamaties. Toe room.

Is u nou tevrede, is die kwaaie Neptunus met sy wit wattebaard telkens hoopvol gevra. Dan kom die bulderende antwoord: Nee! Eers ná die mildelike aanwending van room is hy oortuig dat die aspirante inderdaad die status van “Brave Seaman” verdien. Maar ‘n morsige spulletjie gewees. Die volgende “prosedure”, wat rou eier sou wees, is darem so vrygepring.

Kaptein Russo, in sy onberispelike wit uniform, het sy arms verheug in die lug gewerp asof sy skip van die een of ander onnoembare ellende gered is.

2-IMG_0703

1-IMG_0687

Die volgende oomblik het die opdrag gekom: Water toe. Besmeerd en beslierd het die spulletjie gehoorsaam. Daar is halsoorkop die water in geplas, gespring en geduik. Eerlank was die silwerskoon water pikswart besoedel. Agterna moes die pompe hard werk om die vuil water te vervang.

Uiteindelik is Neptunus vort en is uitbundig op harde musiek om die swembad gedans. Die induksie was verby. Het skielik teruggedink aan 1957 op die Tukkiekampus met die ontheffing as ienks van Kollegetehuis. Aan die modderbad en die pil van o.m. skoenwaks en duiwelsdrek. Deesdae is sulke dinge mos taboe omdat dit ‘n aantasting van menswaardigheid sou wees. Op die Opera se dek 11 het niemand hom op 4 April oor menswaardigheid bekommer nie. Hierdie “ontgroening” was eenvoudig vet pret.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page