Met Leserskring, RSG en By se soektog na die gewildste gedigte in Afrikaans het ek uit die staanspoor moeilikheid. Wat is gewilde gedigte en wat is mooi gedigte? Is die gewildste gedigte die mooiste gedigte en omgekeerd?
Om ‘n lysie van ‘n mens se eie vyf gunstelinggedigte op te stel, is die volgende groot vashaakplek. Kan ek verse wat deur die jare in verskillende omstandighede my hart geraak het, koeltjies lys en nommer?
Jammer, bo my vuurmaakplek.
Vanoggend na twee groot geeste, Joan Hambidge en Kerneels Breytenbach, se keuse op Margot Luyt se program op RSG geluister (Margot, ook van Bultfontein, soos my liewe gade, het, terloops op ons troue op 31 Desember 1966 in Bultfonteinse NG kerk vir ons psalm 121 voorgedra: “Ek slaan my oë op die die berge …” Verheffend!
Hoop Joan en Kerneels vergewe my as ek uit my lekehoek die opinie waag dat hulle ook maar met die seleksie gesukkel het. Hulle wou dalk eerder verteenwoordigend wees – tydvakke, grootste digters, manlike en vroulike verteenwoordiging, daardie klas ding.
Nietemin, hulle had darem Winternag van Eugene N. Maraius op hul lys. Winternag is ook op myne – dalk een van die grootste (en mooiste en gewildste) gedigte in Afrikaans.
In my boekie word Winternag egter deur ‘n ander Eugene Marais-gedig uit die eerste plek gehou. Ek verwys na die weergalose Dans van die Reën (Lied van die vioolspeler Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn).
Dans vir ons , liewe suster, kom dans in daardie prag-Afrikaans:
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
En haar oge is skaam;
En sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
Haar armbande blink en haar krale skitter;
Saggies roep sy. Sy vertel die winde van die dans.
En sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte, hulle dam op die bulttop, wyk rek hulle die neusgate
En hulle sluk die wind;
En hulle buk om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
En hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
En haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier:
Sy trap af van die hoogte;
Sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
Die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
O die dans van ons suster: meesterlik, meesterlik, meesterlik. Die heerlike reuk van reën op dorre aarde stuif weldadig op in my neusgate, en ek verwonder my oor die spierkrag van my taal, Afrikaans! Dankie, Eugene Marais!
Comments