top of page
  • Uitmelkbos

DANKIE, DROOGMAKER!

Die bruidjie staan voor die kansel met rooi gehuilde oë oor haar onklaar “droomrok” wat met spelde en gebede bo gehou word. By die onthaal word die rokmaker plegtig bedank vir sy of haar “biesondere” bydrae tot die bruid se “mooiste dag”.

Dis seker ietwat van ‘n ekstreme voorbeeld. As iemand só aangejaag het met, van alle dinge, die trourok, sal die mens wat die bedankings doen, hopelik ‘n wenk kry om daardie bedanking maar liewer oor te slaan.

Dikwels word mense egter entoesiasties bedank, wat werklik geen spesiale bedanking verdien nie – veral by troues (en begrafnisse!) waar die lys tradisionele bedankings dikwels dreig om ellelank te word.

Selfs waar iemand deur sy nek vir iets betaal het, bly die dankie nie uit nie.

My vrou, Tokkie, het ‘n sterk beginselbeskouing dat iemand wat vir ‘n prys ‘n diens lewer, bo en behalwe die tjek (of deesdae se internetoorplasing!) nie nog boonop vir insluiting op die bedankingslys kwalifiseer nie.

Hoekom bedank jy – in die geval van ‘n troue – dan nie ook die winkel waar jy jou skoene, G-string of konfetti gekoop het nie?

Natuurlik word soms deur ‘n diensverskaffer buitengewoon moeite gedoen, spesiaal uit die pad gegaan, groot geldelike tegemoetkomendheid aan die dag gelê of so iets. Dan is dit natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur. Maar wat doodgewone klante-situasies betref, kry jy my vrou nie van haar standpunt af nie.

Sy het dalk iets beet, moet ek toegee, veral nadat sy my aandag begin vestig het op klaarblyklike droogmakers wat, kom wat wil, ‘n dankwoord kry terwyl hulle eintlik ‘n skrobbering of ‘n klap teen die ore verdien.

Die rok is sigbaar afgejaag, soos in my voorbeeld hierbo; die blomme hang, die eetgoedjies is smaak- en verbeeldingloos, die seremoniemeester was vervelig en ongeskik, maar uit gewoonte kom ‘n buiging na hulle kant toe. Hou maar dop.

Werklike staatmakers kan wel wonder hoe hoog hul opoffering en harde werk aangeslaan word as hulle ook maar net items op dieselfde formele lysie saam met die ander is.

Tokkie se pleidooi is dat bedankings uit die hart sal kom, eg sal wees, en ‘n bietjie meer onderskeidende dinkwerk verg as om net vinnig ‘n lysie name neer te pen, omdat dit “so hoort”. Sy is nie altyd verkeerd nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Komentarze


bottom of page