Dagga en diesulkes
Hoeveel van julle het Cicero se blog gelees oor die dagga en die windowshopping wat sy in Amsterdam se Walletjesbuurt gedoen het?
Ek wonder nou sommer hoe ander bloggers voel?
Moet ons dagga wettig in Suid-Afrika? Ek dink dit sal die dealers tussen die bene tref as die onwettige mark verval.
My vriend Tienie Swanepoel, ’n sosioloog, dink egter anders daaroor: Hy sê die huidige stand van sake pas eintlik die ouens daar in die berge wat die goed verbou. Wettig dit, dan gaan die boere met die John Deeres die geld maak.
Goed, dekriminaliseer dan?
Op Cicero se blog is daar ook iemand wat duidelik sê hy is verslaaf aan dagga. Hy waarsku dus daarteen.
Ek het self vriende wat uit hulle werk en huwelike is omdat hulle nooit wou afkom aarde toe nie – dagga!
Tog, alkohol is wettig, en alkohol is hoogs verslawend.
Ek is mal oor ’n glas rooiwyn, maar is nie afhanklik nie. Ander weer, hulle is.
Kyk, ek het self al dagga gedoen in my jeug (onwettig) en dis lekker. Waar trek mens die streep?
Baie goeie vriende van my is deur Tik. En *$#! mense, dis hel. Dis hel, dis hel. Ons het soos toeskouers langs ’n rivier gestaan en kyk hou hulle see toe dryf. (Albei is nou skoon, maar dit was maande in rehab om so ver te kom.)
Verder het ander goeie vriende se kinders heroïen gedoen. Eina. Dis op die vlak van tik.
Ek dink dus, en wonder wat ander dink, dat ’n mens liefs vir kinders moet sê:
-Alhohol: Binne perke
-Dagga: Binne perke (maar jy kan tans tronk toe gaan, so asseblief dink twintig keer)
-Kokaïen: O, hel, nou’s jy op ’n gevaarlike paadjie, maar as jy vroeg kom vir hulp, kan ons jou omdraai.
-TIK: NEE, NEE, NEE, fokken NEE!
-Heroïen: Selfde as TIK, NOOIT, nooit!
Sien, as jy net sê: Dwelms is gevaarlik, dan weet kinders nie watter is werklik gevaarlik en watter is minder problematies nie.
Maar, ja. Ek hou my hart vas vir my kleuter. Ek dink tog ek sal bogenoemde aan hom sê.
En dan prostitusie? Hieroor voel ek minder ambivalent. Ek het ’n jaar lank vir ’n organisasie gewerk waar ons met vele prostitute in aanraking gekom het. Ons het hulle gehelp met allerlei goed. Die enigste mense wat voordeel trek uit die kriminalisering van seks, is korrupte polisiemanne.
Let them pay tax!
Wonder wat julle dink?
Commentaires