Aan die verspreiding van alarmistiese disinformasie per e-pos, SMS of hoe ookal het ek ‘n hekel, soos my vriende weet. Ek is vasbeslote om my nie te laat vang om ook op daardie wa te spring nie.
Vanoggend het ek amper in ‘n strik getrap ná ontvangs van ‘n boodskap, so oortuigend, so dringend en uit so ‘n betroubare bron (na my oordeel) dat ek kon sweer dis evangelie.
Die boodskap verwys na Cokebottels op die gras van elke derde huis, Simbapakkies, wit lappies, rooi sakkies, wit sakkies, mieliestronke, koeldrankklippies, klippe op opritte, en bakstene wat in allerlei patrone gepak is –alles glo tekens wat deur verspieders gelaat word vir kwaaddoeners wat later kom toeslaan.
Die afsender berig sy het “ ‘n asblik van my kar gemaak, maar geweet ek beskerm ons buurt”. Sy het die bottels gevolg tot by ‘n huis waar ou mense woon. Sy het seker ses blokke skoon gemaak wat van alle rigtings die huis merk.
My indruk was: dis net ‘n paar uur gelede se nuus. Voor my geestesoog het boonop ‘n toneel opgedoem van die straat waarin ons woon. Alles het gebeur terwyl ek rustig slaap!
By die boodskap was die dringende versoek dat dit sonder verwyl verder versprei word om die buurt op sy hoede te stel. Gelukkig het ek verkies om eers die bron te bel voordat ek bure en vriende die skrik op die lyf begin jaag.
Toe moet ek hoor dit kom van “iemand wat iemand ken” en die herkoms is heeltemal ‘n ander geweste. Ek het opnuut gewonder: steek in sulke stories enige geloofwaardigheid of word dit deur mense met vrugbare verbeeldings uit hul duime gesuig?
Hoop nie hierdie ou man word ontnugter nie, maar hy is nogal geneig om te dink dis soos kettingbriewe – die ene versinsel.
Comments