top of page
  • Izak de Vries

Christina Landman vs. Johannes Comestor?

Ek hoop julle volg die wonderlike mini-seminaar oor die huwelik wat op LitNet aan die gang is. Kliek hier, as julle dit nog nie gesien het nie.

Ek wil egter baie spesifiek vir julle verwys na Christina Landman se stuk, en dan nog meer spesifiek na een opmerking wat sy gemaak het:

“Die afgelope tien jaar het ek dikwels (wit) mense in berading begelei wat in meer-partner-verhoudings is. Die man kan nie wettig met meer as een vrou trou nie, omdat hy moet kan bewys dat dit deel is van sy tradisie, en ’n wit mens kan dit natuurlik nie bewys nie. Daarom kom die man en sy twee partners ooreen dat hulle in ’n verhouding ingaan waar die man ’n intieme verhouding met twee vroue het wat van mekaar weet.”

Ek ken een van hierdie troikas wat deur Landman begelei is en is baie goed bevriend met die “tweede vrou” in hierdie spesifieke verhouding. ’n Deel van my navorsing vir Byna Liefde het van hulle af gekom. (Hulle drie woon deesdae in twee huise in dieselfde meenthuiskompleks.)

Vir Christina het dié drie die grootste respek.

Daar is egter ook talle ander modelle wat werk. Ek ken gay paartjies wat saam-saam kinders gemaak het. (Twee mans, twee vroue – een of meer kinders.) Al vier ouers aanvaar dan verantwoordelikheid vir hierdie kinders. Sulke verhoudings is natuurlik nie huwelike nie, maar wel alternatiewe vir die tradisionele huwelik.

En dan is daar poli-amorie wat sy eie voor- en nadele inhou. Sommige sogenaamde poli’s is bloot verveelde swingers. Lees ook die poli-ruimtes en jy sal agterkom hulle word maklik geteiken deur bordele. Maar, en dis belangrik, daar is talle ander verhoudings wat langertermyn, baie mooi, baie goed en poli-amoreus werk.

Wat my bring na die hooggeleerde Johannes Comestor se interessante perspektief op my blog oor Portrait of a marriage. (Lees Comestor se brief hier, en my blog hier.)

Comestor is, soos Dan Roodt, iemand wat die wêreld lankal uitgepluis het en nou vir ons arme linkse drommels sit en wag om in te sien wat hy reeds weet. Ek kan dus nie myself verwerdig om teen sy geleerdheid te praat nie, maar ek wil tog vra: Lees asseblief Vita Sackville-West se eie woorde, en lees wat haar seun oor sy eie ouers se huwelik sê. Julle kan julle moeilik ’n mooier liefdesverhouding indink. (Lees ook asseblief Comestor, hy sê baie slim goed.)

Daar is talle biografiese vertellings oor Sackville-West.

Comestor noem byvoorbeeld Victoria Glendinning se Vita, the life of V Sackville-West. Lees dit gerus. (Ongelukkig is die boek nie op Kalahari beskikbaar nie, maar op Amazon gaan jy dit kry.)

In geskrifte óór Vita leer ’n mens heelwat meer van haar lewe as wat jy in Portrait of a marriage te wete sal kom, want laasgenoemde handel grootliks oor Vita se affair met Violet Trefusis – en dan ook oor die manier waarop Harold en Vita se huwelik sterker geword het deur die jare, ten spyte van hierdie soort verhoudings.

Virginia Woolf se verhouding word ook betrek, juis omdat dit toon hoe fyn Harold gesteld was op sy vrou se vermoë om lief te hê. (Lees ook Marietjie se kommentaar onderaan my blog oor Portrait of a marriage. Sy noem, via Elizabeth Hardwick, onder andere “Virginia’s famous frigidity” – iets wat Vita ook beleef het en, ten spyte daarvan, steeds ’n passievolle liefde, maar juis nie seksueel nie, vir Virginia ervaar het.)

Vita het heelwat meer vroue bed toe gevat as wat in Portrait of a marriage beskryf word. Daar word ook min detail gegee oor die talle mans in Harold se lewe (hoewel dit glad nie verswyg word nie).

Ek volstaan egter deur te sê: Hier is ’n model van ’n huwelik wat jare lank gehou het. Hoekom? Want dit is gebou op respek. Hier was twee gelykes wat werklik lief was vir mekaar.

Moenie vir my glo nie. Lees self wat hulle oor hulleself en oor mekaar skryf.

Comestor maak een ander opmerking wat ek graag wil aanhaal – een heelhartig wil ondersteun:

“Die tragedie van die huwelik is dat dit meesal jong, onervare, naïewe, weerlose mense is wat daarin vasgevang word.”

Inderdaad. In ’n land waar kinders gesê word hulle moet maagde wees tot hulle trou, en dan deur fundamentalistiese kerke voorgesê word wat ’n sogenaamde huwelik is, kan ek nie anders as om saam te stem nie.

En tog, weet julle, huwelike kán werk, maar dan moet albei vennote bereid wees om die mindere te wees.

Vita Sackville-West en Harold Nicolson se huwelik hét gewerk – al was dit bisar in talle mense se oë.

’n Dominee-vriend van my het die ander dag gesê: “Monogamie werk nie. Die kerk moet dus kyk na ander opsies.” Sackville-West en Nicolson het só ’n opsie uitgeleef. Terloops. Comestor noem dat die twee se seuns, Nigel én Ben, se huwelike misluk het. Lees gerus Nigel se eie woorde daaroor in Portrait of a marriage.

Ek wil afsluit met ’n ander slim man se woorde. PG du Plessis en sy vrou het die land vol getoer met die bekendstelling van PG se boek A married man’s guide to adultery. Tydens een van die sessies, in Louis Trichardt, vra iemand toe vir PG hoe hy en sy vrou na al die jare nog bymekaar is. Sy antwoord was dit vriendskap is. Die lyf, sê hy, raak minder belangrik soos die jare aangaan. Dis vriendskap wat tel.

Sela.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page