top of page
  • Izak de Vries

Christien Neser: sterk konflik en die soeke na identiteit

christien_neser

Foto verskaf deur LAPAChristien Neser skryf liefdesverhale vir skoolmeisies. Haar boeke, Blou sjokolade, Duinebesies, Kondensmelk, Koshuiskoffie en Rocksusters word verslind deur tieners en vorm ’n basis vanwaar hulle meer volwasse literatuur kan aandurf. Ek het haar ook uitgevra oor #IreadYA wat tans in VSA aan die gang is. In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte? Ek kan nie eerlik hierop antwoord nie, aangesien my teikengroep beslis onder 18 is, eerder die 12 tot 16 groep. Hierdie groep is steeds skoolkinders, dus nog nie regtig jong volwassenes nie. Omdat meisies ook my teikenlesers is, is hulle ontwikkelingsvlak nog nie by die “jong volwassene” nie; hulle is nog tieners. Ek sou die jong volwassene as ‘n 17/18 jarige beskou: seksueel al meer ervare as die deursnee tiener, meer wêreldwys en dalk ook al meer sinies. Die tipe stories wat ek skryf is nog sterk gebaseer op die “uitgestelde begeerte”; niks is eksplisiet en gewaagd nie. Vir die ouer, ervare tiener is die bruggie na volwasse literaruur baie maklik om oor te steek. Vir hulle is die mark van Hunger Games, Vampires, ensovoorts baie aanloklik. Ons het nie in Afrikaans iets wat met daardie mark meeding nie. Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit? Vir my is dit om een of ander rede net natuurlik. Ek hoef nie daaroor te dink nie. Dalk het ek my eie tienerjare baie intens beleef (na binne) en my kinders se tienerjare geweldig geniet. Dis dalk ’n versugting om my eie tienerjare meer voluit en  waaghalsig te kon geniet. Daar is ’n verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien? Ek dink vir meisies van 12 en ouer, moet daar beslis ’n romantiese kinkel in die storie wees. Dit is iets wat glad nie noodwendig vir die onder 12’s geld nie. ’n Goeie kinderboek behels dikwels ’n probleem wat deur die karakter opgelos word. Die hoofkarakter is dus die held van die oomblik. Dit is in ooreenstemming met Erikson se fases van ontwikkeling: van 8 tot 11 jaar is kinders tussen twee pole: prestasie/bekwaamheid vs. mislukking en minderwaardigheid. In hierdie fase wys die held of heldinnetjie altyd dat sy op die ou end bo uitkom en die spookhuis, stiefma of die dinosourus kan oorwin. Daar moet sterk konflik in ’n tienerroman wees en die soeke na identiteit is belangrik. Dit sluit aan by Erikson se Ontwikkelingsfases: kinders tussen 11 en 16 is heeltyd tussen twee pole – identiteit vs. verwarring. Wat die jong volwasse roman betref, glo ek die romantiese aspek word meer eksplisiet en uitdagend, die konflik meer gewelddadig en selfs bloedig. Dit is kenmerkend van reekse soos die Twilight-sage en Hunger Games. Rillereffekte raak grusamer en meer realisties. Daar is ook al sprake van toekomsvisie: watter studierigting, werk, watter land, ensovoorts. As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel? In Engels, die Hunger Games-trilogie. In Afrikaans, Fanie Viljoen se Onderwêreld en Breinbliksem. En almal kan steeds Harry Potter lees. As mens aan Erikson se fases dink, het die Harry Potter-reeks baie slim van die kinderboek na die tienerboek na die jongvolwasseroman beweeg. Die boeke het al donkerder en komplekser geraak, met al hoe meer geweld en persoonlike intriges.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page