Terwyl die Van Deventers somervakansie in die bos gehou het, het die eerste resensie oor “Byl in my bos” verskyn – deur Stoffel Cilliers in Volksblad.
Cilliers vlei my en my boek, maar ek wil dit darem graag vir wyer kennisname op my blog sit. Verkwalik tog maar nie die ou man die plesiertjie nie!
Van Deventer kap vlymskerp in die herinneringsbos BYL IN MY BOS deur Hennie van Deventer. Griffel Media. Sagteband. R165.
SÓ ’n oorspronklik gekonsipieerde bundel tref ’n mens selde aan, omdat min skrywers in staat is om dit te kan skryf. Hennie van Deventer kón.
Dié oudredakteur van Die Volksblad, wat in 1998 op 57-jarige ouderdom as uitvoerende hoof: koerante van Naspers uitgetree het, het vele vooraanstaande meningsvormers en politici goed geken: “almal marsjeer in 34 jaar in die perswese voor jou verby”.
In hierdie anekdotiese herinneringsbundel bring hy kernagtig hulde aan 137 “tydgenote van verskillende generasies wat reeds deur die Byl uit ons bos gekap is”.
Soms word slegs ’n paragrafie as staaltjie opgeroep. En sommige herinnerings, soos dié aan die Wit Terroris, Dries Kriel, wat Van Deventer se lewe as verligte redakteur lank vergal het, is ook nie “teer” nie. Die skrywer het egter nie kwade bedoelings nie, al is hy soms uitgesproke.
Daar is nege kategorieë herinnerings/huldeblyke. Gou merk die leser dat dit nie sentimentele, persoonlike herinnerings is nie.
In sy geslypte, akkurate dog heerlik gesellige styl skryf Van Deventer oor verskeie openbare persoonlikhede wat in die tweede helfte van die vorige eeu dikwels in koerante vermeld is.
Treffend is sy aanhaling uit Hamlet oor prof. Wynand Mouton, UV-rektor en SAUK-voorsitter: “We shall not look upon his like again” (p. 8).
Die skrywer se eie pa, Seun, is dood toe hy maar vyf was. “Nou het ek van Seun van Deventer maar bloedmin oor. Geen herinnering aan ’n stem nie, aan hande of aan ’n aanraking nie” (p. 25).
Die versoeking is sterk om die skrywer se kostelike staaltjies te vertel oor 16 “leiers en/of verleiers” van die volk, onder andere Hendrik Verwoerd, John Vorster, P.W. Botha, Piet Koornhof, Helen Suzman, Andries Treurnicht en Jim Fouché.
Die helfte van sy 68 lewensjare het hy in die perswese deurgebring. Daarom vertel hy besonder onderhoudend van 36 persmanne: van kolosse soos Schalk Pienaar en Piet Cillié tot minder bekendes soos Eddie du Plessis, ’n nag-subredakteur wat vir ’n berig oor swak weermagstewels die volgende opskrif geskryf het: “Die sool is die kous nie werd nie”. Aandag aan minder bekendes soos dié gee geloofwaardigheid aan die bundel.
C.R. Swart het twee maande as redakteur van Die Volksblad waargeneem.
Die oomblik toe dié lang man in 1936 ’n hoofartikel begin tik, tref ’n aardbewing die koerantgebou!
In hierdie deel, maar ook elders, verskyn inligting wat moontlik nog nie tevore bekend gemaak is nie.
Dit is duidelik dat Van Deventer joernalis gebly het. Hy skryf gesaghebbend, objektief en akkuraat, soos ’n gesoute joernalis, maar ook lesersvriendelik, gesellig en humoristies soos ’n goeie skrywer. Etlike kere vertel hy staaltjies ten koste van homself. Dit is reeds sy 14de boek.
Altesaam 48 foto’s help om die mense oor wie geskryf word, aan die vergetelheid te ontruk.
Die onthou-paadjies wat die leser saam met Hennie van Deventer in die bundel kan bewandel, is interessante paadjies. Goeie joernalistieke gids wat hy is, beskryf hy dit humoristies, insiggewend en boeiend. Stap gerus saam deur sy bos in hierdie uitstekende geskenkboek. Dit is ’n belewenis.
– Stoffel Cilliers, vryskutresensent
コメント