Ek en Alf Ries by ‘n vuurtjie in Sabiepark – die illustrasie by my blog van vier jaar en iets gelede.
Met vier-jaar-intervalle pak die jeukerige drang my om sulke morbiede sommetjies te maak soos in die blog hieronder, Langboompies toe. So lyk dit.
Toe ek terugblaai deur die sowat 700 blogs sedertdien, kom ek af op my geskrif van 21 Februarie 2007 op my Yahooblog by www.hennievandeventer.com/hvdblog. Sy opskrif was, nie verrassend nie: Byl in my bos. Dit is ook die titel van my boekie oor allerlei heengeganes, wat in 2009 by Griffel Media verskyn het. (Reklameflits: ek glo “Byl” is nog wyd beskikbaar!)
Een kommerwekkende aspek van die ou en die nuwe blogs is dat die statistieke nogal sterk verskil. In die nuwere weergawe is die persentasie kruisie-mense in elke kategorie ongelukkig aansienlik groter.
Kom ek herhaal daardie blog hier vir diegene wie se belangstelling voldoende geprikkel is om op ou voetspore saam met my terug te loop:
“Het iemand iets gese van die byl in ons bos?
\
“Tokkie se ek raak morbied om telkaart te hou, maar dit skud nogal as 20-stuks van jou nabye vriende gelyktydig onder mediese sorg is. Die laaste week of wat was nie minder nie as ses in die hospitaal. Vier het oorvleuel.
“Dis hart, kanker (prostaat, o prostaat – maar ook nie net prostaat nie), longkwale, beroertes, mantelvliesbreuke – selfs ‘n blinderderm wat op die rype ouderdom van 67 bars. Nie eens geweet die ou dermpie is op daardie ouderdom nog operasioneel nie!
“Kan maar net vir al hierdie ongestelde vriende en vriendinne aanspoor: byt vas! Hopelik skyn die son gou weer helder.
“Op die foto hierbo is kollega Alf Ries saam met my by ‘n kampvuurtjie in Sabiepark. Dit was Alf se laaste besoek – maar ons het dit in daardie stadium nie eens vermoed nie. Tot 1 Januarie 2006 was hy perdris. Op 1 Januarie 2007 was sy kersie gedoof – nog ‘n slagoffer van die groot K.
“Met Alf het ek ‘n lang pad saamgeloop, van 1963 toe ek my as groentjie by die Persgalery in die Parlement aangemeld het. Alf het my rondgewys en my touwys gemaak. Wat ‘n eersteklas-joernalis was die klein kereltjie nie! Toe kom maak jong bulletjies politieke omstredenheid rondom sy dood. Dit was bedenklik. Kom ons los dit maar daar.
“Nog ‘n oorledene van 2006 was Ganga Pillai, die eerste van ons klas Nieman Fellows van 1976/77 wat groet. Ganga was ‘n Maleisier. In die jare dat ‘n Afrikaner in die liberale akademiese kringe van Harvard nie altyd populer was nie, was die ou kalm grote uit Koeala-Loempoer ‘n steunpilaar.
“Jare later het ons twee ons eie klein reunie-tjie gehad in Hong Kong. Hy het spesiaal oorgevlieg toe hy hoor ek gaan daar wees. Hy het ‘n pewter-vaas as afskeidsgeskenk aangebied. In ‘n briefie daarby het hy in sy kunstige handskrif geskryf: ‘The presence of this vase in a South African home should at least symbolise a common thread of humanity that transcends political barriers.’
“Hier op Melkbos treur ek oor ou Ganga – soos ek oor Alf Ries treur. Ek sal albei onthou as lewende voorbeelde van daardie ‘common thread of humanity’ waarna Ganga verwys het.
“Van reunies gepraat: in September vanjaar trek ons Volkie-matriekklas van 1957 op Potchefstroom (Tolwe/Tokwe?) saam vir ons “goue bruilof” – 50 jaar later. Daaroor gaan ek weer skryf. Dit was nogal ‘n klas om iets oor te skryf, hoor!
“Nou in hierdie stadium, met HvD in ‘n morbiede bui en die tema van vandag se bloggie wat dit is, is een feit egter relevant: dis dat minstens 13 uit die 80 nie meer met ons is nie. Dis oor die 16 persent. Ons sal ‘n heildronkie moet drink op die afwesige vriende.
“Die boodskap van alles is duidelik. Ons bos kom toenemend aan die beurt. So van 65 af kom die kwesbaarheid – vir sommige gouer, vir ander later, selfs baie later. Laat ons nie onverwags betrap word nie. Laat ons ook nie tyd verspil met allerlei sorge en swaarmoedighede nie.
“Laat ons voluit leef, en die tyd wat ons nog beskore is, ten volle geniet. Dis ‘n grenslose voorreg en genadegawe.”
Ek wil graag daardie laaste twee paragrafies onderstreep. Na ‘n entjie meer as vier jaar weerspieel dit steeds presies wat ek oor die onderwerp op die hart het. More skryf ek oor iets vroliker.
Comentarios