top of page
  • Uitmelkbos

BYL IN MY BOS



‘n Bekende het my een keer nogal kortgevat toe ek hom uit verbeelde hoflikheid meedeel dat iets oor hom in ‘n aanstaande boekie uit my pen sou verskyn. “Wat wil jy hê moet ek doen?” wou hy iesegrimmig weet. “Moet ek uithardloop en jou boek gaan koop?”


Ek wys graag vandag die omslag van waarslynlik die uwe se laaste boekie, Byl In My Bos, wat in Augustus/September sy buiging maak.Wat wil ek hê moet julle doen? Natuurlik wil ek graag hê julle moet uithardloop en die boekie koop, maar darem nie nou al nie. Dus sal ek nader aan die tyd weer herinner.


Van daardie omslag het ek die bekende boekemeisie Chrisna van Rensburg, uitgewer van Kakkerlak (“Te kort jou skoonheidsduur, roos van my hof …..”), wat die Engelse noem ‘n “sneak preview” gegee. Haar kommentaar? “Sjoe, dit is verskriklik mooi! Is dit ‘n foto? Lyk eg en pragtig.”


Hoop nie Chrisna gee om dat ek haar sonder oorlegpleging hier aanhaal nie. Mag ek egter maar sê dat ek nes sy daaroor voel?


Die skepper is die kunsfotograaf Kevin Factor van Johannesburg wat deur my dogter, Marisa Claassens, met sy kamera en ‘n pak pragfoto’s by ‘n uitstalling in die Knysnabosse raakgeloop is juis terwyl ek naarstiglik op soek was na ‘n bosfoto vir my omslag.


Ek wou bome hê, maar ook afgesaagde/afgekapte boomstompe wat die aktiwiteit van die “Byl” illustreer. Ek het by Kevin aangeklop en hy het oornag met dié treffende komposisie vorendag gekom – ‘n kompilasie van twee foto’s uit sy foto-argief.


Laat ons maar hoop dat die boekie self nie te veel by sy prag-omslag gaan afsteek nie!


Julle besef seker al teen hierdie tyd wat daardie “Byl in die bos”is. Dis die ene wat bly kap en kap totdat dit hier op ouderdom amper 70 onheilspellend yl hier om ‘n mens word.


Byl in die Bos bevat persoonlike herinneringe aan ‘n 130-stuks oorlede politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit langboompies toe is.

Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders sou ‘n boek oor die dode darem dodelik vervelig kon gewees het!


Oor die ‘leiers en verleiers’ uit my bos word hopelik verrassende glimpsies gegee. Een staatshoof sou byvoorbeeld ‘n skaapkop met sy knipmes takel. ‘n Ander het hierdie koerantredakteur in die jagveld met die hand lemoenskyfies gevoer. ‘n Deftige mevrou van Libertas se delikate doilietjies is in tronk-kamerpotte uitgespoel!


Hoekom is ‘n topredakteur as ‘n ‘swaar vermomde engeltjie’ en sy kollega as ‘n ‘goeie bliksem’ beskryf? Byl in my Bos verskaf die antwoorde. Daar word ook vertel van ‘n koerantveteraan wat in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed Kabinetskuiwe reg voorspel het, en van die skrywer wat ‘n koeël van ‘n jaloerse eggenoot in sy kuiltjie gekry het – toe hy onskuldig was!


Die boek handel oor “bekendes, rykes, slimmes, skones en sommer doodgewones”. Die sluipmoorde op Hendrik Verwoerd en Chris Hani word onthou – maar ook die getroue tuinman Daniël wat ‘sy lewe’ verloor, en teruggekry, het.


Volgens die agterplat word die leser toeskouer by vuurwarm direksievergaderings en vername etenstafels; hy hoor geheimpies oor ‘n onwaarskynlike lid van die Afrikaner-Broederbond se lojaliteit; ‘n formidabele volksmoeder se guitigheid by boere-opskoppe; ‘n omstrede skilder se eskapades met naakte modelle…


Ten slotte word verklap watter vrou die ‘onuitwisbaarste indruk’ op hvd gemaak het (Tokkie uitgesluit!), wie ek onthou soos my eerste soen en wie ‘n liefdesbrief van 114 bladsye gekry het. Ek verswyg egter (ridderlik) die naam van die mooi ouderling wat, kaal bolyf, knielend voor haar leraar gestaan het!


Naskrif: Ja, die “Byl” hou nie op kap nie. Ons klas van 1957 het in September 2007 50 jaar na matriek op Potchefstroom saamgetrek vir ‘n reünie. Toe was minstens 15 van die 81 al uitgekap. Sedertdien het nog drie bygekom – die laaste twee, Mornay du Plessis en Ina van Niekerk, in die twee voorafgaande weke, albei na botsings teen vragmotors.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page