Ek kon dit nie verstaan nie. Nie in die laerskool, toe ek dit die eerste keer in daardie bruinerige Skoolverseboek moes lees of anderdag, toe ek weer hieraan dink nie. Waarom vir ‘n kind hierdie gedig van IL de Villiers voorskryf?
Eddie, kan jy my hoor? Dis ek, oom Dominee.
Jy moenie bang wees nie, die Here Jesus sal jou self kom haal, jou handjie vat. Jy is mos lief vir Hom. Weet jy, die stad waar Hy woon is so mooi, met pêrelpoorte en fonteine. Sagaria, die profeet, sê oral op die pleine en die strate speel die kindertjies. Moet ek dit vir jou lees?
Jy wou iets sê? Wag, ek kom nader – kon nie mooi verstaan nie.
Jy wil nie gaan nie.
As kind was die gedig vir my so vreesaanjaend (kinders gaan mos nie dood nie!) dat ek gekies het om enige dieper betekenis mis te kyk.
My seuntjie se Skoolverseboek-oomblik was nou die aand, een van die vele hierdie week, toe die nuus se hoofberig weer oor Nelson Mandela in die hospitaal handel. Ek maak die fout om te sê ek het die dag in die media gelees sy gesin moet besluit oor asemhalingsmasjiene.
“Kan mens dan nie asemhaal as mens dood is nie?” vra my seuntjie geskok.
Dis nie die eerste keer dat ons oor die dood praat nie, maar in sy groot oë sien ek die eerste keer ‘n soort verstaan.
Kort daarna kom vertoon my dogtertjie haar nuwe rokkie, by ‘n ouma ontvang die dag. Ek is allesbehalwe behep met pienk en rokkies (anders as sy), maar hierdie betrokke kledingstuk is anders. Ek hou so baie daarvan dat ek ‘n onmiddellike besitlikheid ontwikkel. Die afgelope tyd het ons so baie ou klere vir mense gegee wat dit baie nodiger as ons gesin het, dat dit dalk die rede is hoekom ek daaraan dink: Hierdie rokkie is net hare. Dit gaan nêrens heen nie. Nooit nie.
So moes die Egiptenare seker gevoel het toe hulle die mummies se aardse besittings saam met hulle in die piramides begrawe het. Dié is nou belangrik, dit moet aangewend word vir gebruik in die hiernamaals.
En toe tref die absurditeit my. Ek kan dit nie saamvat nie. Nie eens hierdie twee mense saam met my in die kamer wat eintlik my kosbaarstes is in hierdie lewe nie. Hulle pa ook nie. Hulle ook nie vir my nie.
Simbolies, daardie nag, nog ‘n nag met Mandela in die hospitaal, met ‘n toeris wat aangehaal word om te sê: “I only wish he would get better.”
Ons almal wens dit, ja. Ons wens dit vir Nelson Mandela, maar bowenal wens ons dit vir onsself. Ongeag geloof, of nie geloof nie.
Ons almal ken reeds al die stories se eindes, al verskil al die detail vir ons elkeen. Ons weet dit reeds, dis soos die laaste bladsy van ‘n boek wat ons klaar gelees het toe ons die boek uit die rak gehaal het.
En die slotreël, vir Nelson Mandela soos ook vir die res van ons:
Jy wil nie gaan nie.
コメント