top of page
  • Uitmelkbos

Buite die algemene boekhandel

44 Gedichten voor Antjie Krog, saamgestel deur Peter Swanbom & Robert Dorsman. Resensie: Joan Hambidge (Boeke24) Nederlandse digters vier Antjie Krog se sestigse verjaardag met hierdie geleentheidsbundel, verlede Oktober gepubliseer deur die Nederlandse en Belgiese tydskrif vir Nederlandse letterkunde, Tortuca. Joan Hambidge merk tereg op dat dit skandelik is dat Krog nie in Suid-Afrika deur iets soortgelyks vereer word nie. Mens kan dié opmerking sekerlik beaam – maar dit is helaas so dat huldigingsbundels vir digters die uitsondering is eerder as die reël. Breyten Breytenbach het dit sekerlik al oor en oor verdien, so ook TT Cloete, Wilma Stockenström, om enkeles te noem. As die hoofstroom-uitgewerye nie meer sulke publikasies wil aanpak nie, is hier sekerlik ‘n groot geleentheid vir die e-uitgewerye. Maar terug by die resensie: Die vraag vir my is altyd hoeveel nut só ‘n bespreking het. Die tydskrif is nie hier vryelik beskikbaar nie, en Joan Hambidge se bespreking, waarin ‘n mens haar op haar beste vind, wek ‘n irritasie want jy weet dit gaan lank wees voordat jy bevrediging kan kry. Die vermelding van ‘n kontak-adres is te verwelkom.

Koedoesrand-kronieke: Die verhaal van Meester in sy eie woorde, deur S.W. Breytenbach. Resensie: Fransjohan Pretorius (Boeke24) Nog ‘n boek wat skynbaar nie in die algemene handel beskikbaar is nie. Fransjohan Pretorius dink dis die moeite werd om te lees, omdat dit ‘n blik gee op die ontwikkeling van die Afrikaner in ‘n plattelandse omgewing, waar swaarkry die maklike manier van oorleef was. Terwyl dit inhoudelik ons aandag werd is, vestig Pretorius die aandag daarop dat dit ‘n boek is wat ‘n professionele uitgewer nodig gehad het – té veel spel- en tikfoute. As al hoe meer Afrikaanse boeke buite die sfeer van die Afrikaanse uitgewerye verskyn, wat gaan word van die peil van Afrikaans wat daarin verskyn?

Sandsteenpraatjies, deur Susan Maré. Resensie: Erika de Beer (Boeke24) Hoflikheid is darem ‘n mooi eienskap. Veral by resensente. Met piëteit haal Erika de Beer die voorwoord aan: “Elke essay wil iets van die voorreg en veelkantigheid van menswees op aarde vier, besing en beskryf.” Ongetwyfeld het De Beer ook ‘n paar Facebook-vriende wat haar mal maak met hul gejubel elke oggend oor hoe geseënd mens dan nou eintlik is. De Beer het ook agting vir die essayis se belesenheid en musiekkennis. En haar geestelike sy. Veral die essay “Sweef soos ‘n arend in koesterende genade” het haar oog gevang. Daar is wel ‘n paar probleempies, soos vaagheid en die kontreigebondenheid van meeste van die verwysings. Onder die omstandighede kan De Beer nie anders as bevind dat slegs Oos-Vrystaters hierdie bundel essays sal geniet nie. Die res van ons kan dit net naby die bundel waag met ‘n papiersakkie byderhand, lyk my.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page