top of page
  • Uitmelkbos

BUIGINGS OOR TAALGRENS

‘n Uitsonderlike stukkie koerantgeskiedenis wat ek onlangs weer in Jaap Steyn se biografie “Sonkyker” raaklees, kom uit 1959, die jaar van die “Wonder van Afrikaans”-vierings met landwye taalfeeste wat deur die FAK gereël is op versoek van die Akademie wat daardie jaar 50 jaar oud geword het.

Ook Engelssprekendes het deelgeneem. Op 29 Mei het die plakkaat van die ontslape “Rand Daily Mail” – van alle koerante – gelui: “ Vandag praat ons Afrikaans”. In ‘n berig onder aan sy voorblad het die koerant geskryf: “ Vandag lewer ons bewys dat in hierdie ou jingo-nessie in Mainstraat se wệreld is ons ook Boere.” Die “RDM” se hoofartikel was in Afrikaans, met ‘n Engelse vertaling onderaan. Nou toe nou.

Sulke taal-welwillendheid het darem nie net van een kant gekom nie. Met die sluiting in 1985 van “The Friend”, Engelstalige oggendblad met diep wortels wat deur die Argus Printing and Publishing Company in Bloemfontein uitgegee is, het Die Volksblad hom in ‘n Engelse sub-hoofartikel gegroet.

Na die Engelse gemeenskap is ook uitgereik in ‘n advertensie wat in die laaste uitgawe geplaas is met die boodskap “You still have friends”. Spesiale pogings is aangewend om die Engelse gemeenskap daarna met hul eie blokkiesraaisel, eie strokies en Engelse advertensies te bedien – ‘n uniekheid in Suid-Afrika. Dit is wyd raakgesien en gewaardeer.

Verskoon my dat ek dit onbeskeie hier oprakel, maar ek is nogal trots daarop, soos die “Mail” op sy Afrikaanse buiging trots kon wees.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page