- Uitmelkbos
Buffels en olifante, olifante en buffels

Dankie aan almal wat hupstootjies gegee het om HvD se eerste foto op Litnet-blogs te laat verskyn. Hierdie keer was my grootte-opsie “medium”. Dis klaarblyklik strate beter as my eerste mislukte poging om ‘n foto in “oorspronklike grootte ” te plaas. Weg-lesers sal hierdie foto wil-wil herken. Amper ‘n soortgelyke foto is in Weg van November 2008 gepubliseer. Hierdie ene is net effens later geneem. Dit was op 20 Augustus 2008, laatmiddag. Eers het ‘n swart streep buffels die Sabierivier by Sabiepark se piekniekplek oorgesteek. Toe kom die olifante. Dit was ‘n toneel soos ek Serengeti in my verbeelding vir myself voorstel. Eers die 200, 300 buffels. Toe die 20,30 olifante op die buffels se spoor. Die volgende oomblik was dit net buffels en olifante en olifante en buffels. Ons handjie vol toeskouers op Sabiepark se uitkykdek kon ons geluk nie glo nie!