top of page
Uitmelkbos

BROEKVERLOOR SE VLAKTE

Kom ons speel ‘n identiteitspeletjie.

Die man aan wie ek dink, was ‘n skrumskakel. Hy het vir die Blou Bulle gespeel. ‘n Naakfoto bestaan van hom.

As ek verklap dat hy op Woensdag 27 Januarie 70 oud word, sal u besef hoe ver verkeerd u geraai het.

Nee, die ou in my speletjie is Proppie Goosen van Glentana, voorheen George, voorheen Kirkwoord. Hy was n Tukkiemaat in Kollegetehuis van 1959 af. Hy was Hy was ‘n Tukkiemaat in Kollegetehuis van 1959 af.

Rondom my woed ‘n pandemie van 70 jaar oud word van matriek- en studentemaats. Daar was in die laaste paar maande Vos Grey op Ermelo, Johan Bekker op Jacobsdal, Manie Steyn op Krugersdorp, Willem Hartzenberg van Pretoria (op Hermanus), Giel de Swardt op Jeffreysbaai, Proppie… Dis verreweg nie almal nie. Vriendinne se name word om ridderlike redes verswyg.

Om die draai wag Piet Henning op Soutpansberg en Wiekie Moolman op Krugersdorp. Die uwe, altyd die baba in die klas, kom op 3 Januarie 2011 aan die beurt.

Vir Proppie het ek ‘n 70-kaartjie gemaak met die foto hierby op die agterblad. Geen seksuele konnotasie moet/kan daaraan geheg word nie. Die oorsprong was ‘n sogenaamde “broekraid” in 1959. Die manne van Voortrekker het ons Kollegemanne een nag kom uitdaag. Kollege was toe nog op die kampus en die kragmeting was voor die Ou Letteregebou.

Wat vir n ding ‘n broekraid is, het ek in my boek In Kamera (Protea 2003) só verduidelik:

“Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade. “

“Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.”

Dit was só deel van die studentelewe van Tukkiemans soos modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie vir eerstejaars, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

Terloops, Proppie was ‘n kranige skrumskakel. Hy het vir Noord-Transvaal, Natal, OP en SWD gespeel. Sy skakelmaat in n stadum was Nic Bojé, ook ‘n Kollegeman.

Waar is die dae …..?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page