top of page
  • Uitmelkbos

BROEDERLIKE HUPSTOOT


Zwelakhe Sisulu (regs van die polisieman) by die Nieman-fees by Harvard. Die uwe staan heel links.

Soveel rampspoedighede word deur die post-apartheid-regime van Jacob Zuma en sy trawante gepleeg dat ‘n kritikus soos die spreekwoordelike muskiet in ‘n nudistekamp voel. Hy weet presies wat om te doen maar hy weet nie waar om te begin nie!

Hoe ook al, vandag wil ek begin en eindig met een kwessie, seker nie die gewigtigste en brandendste nie, maar bepaald ‘n steurende ongemaklikheid en buitengewoon aktueel. Dit is die voeteslepery met ‘n visum vir die Dalai Lama, geestelike van Tibet.

Mense, dis ‘n onskadelike oubasie wat maar net na die land wil kom om sy vriend en mede-Nobelpryswenner Desmond Tutu se 80ste saam met hom te kom vier.

Die ANC-regering reageer met pynlike lompheid. Hy is soos ‘n trapsuutjies op ‘n hoop hoendereiers uit vrees dat hy sy weldoener en vriend, die reuse-China, aanstoot sal gee. Die land van menseregte, met ‘n grondwet uit die hemel – so hoor ons tot vervelens – deins terug om die klaarblyklik regte ding te doen uit politieke dienstigheid.

Hy klap ‘n bondgenoot soos Tutu – vader van die WVK en ‘n Suid-Afrikaner van hoë internasionale aansien – in die gesig omdat hy na die pype van Baas China wil (moet?) dans en nie die morele moed het om te sê “gaan bars” nie. .

“Big Brother” – hier’s hy in aksie!

Wil nie lang stories maak nie. Maar voel moedswillig genoeg om in die perspekltief van die Dalai Lama- situasie weer die storie te vertel van Adriaan Vlok en Zwelakhe Sisulu, wat in my loopbaanboek Kroniek van ‘n Koerantman opgeteken is.

Kom ons draai die horlosie ‘n jaar of tien terug. Die NP het nog met ‘n ysterhand regeer.

In Mei 1989 sou die Nieman Foundation by die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, sy 50-jarige bestaan feestelik vier, en die Suid-Afrikaanse Nieman Fellows, van wie ek ‘n trotse een is, sou soos een man na die verre alma mater opruk.

Een problem: een van hulle, die nimlike Zwelakhe, broer van Max en Lindi, was in die tronk weens “ondermynende politieke bedrywighede”. Negentien maande al. Sy afwesigheid in sulke tergende omstandighede sou beslis ‘n skadu werp op Suid-Afrikaanse deelname aan die Nieman-fees, het ons almal besef.

‘n Komitee, waarvan ek een was, het aan die Regering bly karring, sonder veel welslae. ‘n Openbare protes is selfs in ‘n stadium oorweeg onder aanvoering van twee senior Engelse redakteurs, Richard Steyn en Allister Sparks (die nimlike).

Toe kom besoek Adriaan Vlok, Minister van Polisie, die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond waarvan ek bevoorreg was om lid te wees (‘n Broer, ja, en sommer ‘n yslike ou knewel van ‘n Broer!).

Ek vat vinnig die gaping. Ek vertel die hele storie en spreek die vrees uit dat van Sisulu nog ‘n martelaar gemaak word soos van Steve Biko.

Ja, hy weet van die Niemans, antwoord Vlok. Gee hom kans om ‘n bietjie te kyk wat gedoen kan word. Twee weke later was Sisulu uit die tronk. Hoewel hy ingeperk is, het die Regering ook reisdokumente uitgereik sodat hy na Harvard kan reis.

Toe Sisulu – later baas van die SAUK en nou skatryk sakeman, – die aand van 5 Mei by die groot Nieman-dinee in die ornate Memorial Hall onder ‘n gejuig arms-omhoog instep, kon ek kwalik ‘n glimlag verberg oor die vermaledyde AB se rol in hierdie “triomf”.

Ek dink nog in welbehae aan daardie oomblik en die Broederlike hupstoot wat dit moontlik gemaak het, maar ook in dankbaarheid aan Adriaan Vlok wat verstandig genoeg was om die regte ding te doen. Maar nou-ja. Adriaan Vlok, is ‘n man wat later onder andere Frank Chikane se voete gewas het. Kan nie juis dink dat van die ANC-leidsliede ooit die inklinasie sou kry om wit voete te was nie!

(Naskrif: Dankie aan my vrou Tokkie wat my geheue oor hierdie insident opgeskerp het. Skerp, Tokkie, skerp!)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page